Jonathan Jansen wil geen Suid-Afrikaner as viserektor by Kovsies

In sy drif om die Universiteit van die Vrystaat van Afrikaners en selfs Suid-Afrikaners te suiwer, moedig die omstrede rektor, Jonathan Jansen, slegs buitelanders aan om vir die vakante pos van viserektor aansoek te doen. Dié pos het juis ontstaan omdat Jansen die bekwame dr. Driekie Hay sonder rede soos ‘n hond weggejaag het. Sy is op 6 Augustus vanjaar summier deur Jansen geskors.

Teken ons petisie dat Jonathan Jansen moet bedank.

Prof. Gabriel Kabanda (middel)
Prof. Gabriel Kabanda (middel)

Weg met Afrikanerskap en Suid-Afrika! Welkom aan Zimbabwe, Amerika en Argentinië: dit is die lande waarvan die kandidate op die kortlys vir die pos van viserektor: akademies aan die Universiteit van die Vrystaat burgers is. Hulle is die Zimbabwiër, prof. Gabriel Kabanda, die Amerikanerin, dr. Le Lene Quesenberry en die Argentyn, dr. Lis Lange. Opvallend is ook dat daar geen blanke man op die kortlys is nie, waarskynlik op Jansen se aandrang.

Liz_Lange
Dr. Lis Lange

Gerugte wil dit egter hê dat Jansen vir Lange, wat voorheen in regeringskringe opgang gemaak het, verkies. Onder andere was sy uitvoerende direkteur van die raad op gehalte in hoër onderwys (2006 – 2010) en het ook ander amptelike poste beklee.

Die universiteit se skakelbeampte, wat as direktrise vir kommunikasie en handelsmerkbestuur bekendstaan, Lacea Loader, het egter aan die media verklaar: “Geen individu beskik oor die mag om aanbiedings te maak of aanstellings te doen nie. Dit word altyd deur middel van komitees van die universiteit gedoen.”

Volgens haar is geen besluit oor die aanstelling nog geneem nie. Die bestuur van die universiteit sal aanvanklik ‘n aanbeveling doen, waarna die UV-raad dit op 21 November sal goedkeur.

Hoewel Lange ‘n Argentynse burger is, het sy haar Ph.D. in geskiedenis aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Wits is bekend vir sy klem op die marxistiese benadering teenoor die geskiedenis. Tans word verskeie linkse en ekstreemlinkse akademici na Afrikaanse kampusse ontplooi om hulle ideologies te transformeer.

Boonop is daar van haar mede-akademici by Kovsies wat meen dat Lange “onbevoeg” is om as viserektor aangestel te word. Sy het geen bewese publikasierekord nie, was nog nooit ‘n departementshoof of dekaan nie of selfs promotor van ‘n nagraadse student nie en beskik oor geen navorsingsgradering nie.

Volgens Lacea Loader is Lange se aanstelling by die DINAB of selfs haar huidige kandidatuur vir viserektor: akademies nie ongewoon nie. Sy sê: “Lange is as hoof van die DINAB aangestel deur dieselfde proses as ander senior personeel in ’n senior werwingsprojek onder die mandaat van die UV-raad. Lange word wyd erken as die mees senior persoon in die land wat betref hoër­onderwysbestuur en administrasie wat verband hou met gehalteversekering, akkreditasie en programoorsig – alles kritieke take vir universiteitsleierskap in Suid-Afrika en in die buiteland. Dit is vir hierdie doel dat sy aangestel is as hoof van die DINAB.”

Prof. Gabriel Kabanda, wat op die foto hier bo soos ‘n Nigeriër geklee is, is tans visekanselier: korporatiewe beplanning en sake-ontwikkeling aan die Zimbabwe Open University (ZOU). Blykbaar het hy in 1996 ‘n doktorsgraad in rekenaarwetenskap iewers in Kalifornië, VSA, verwerf. Agterna het hy in 2007 nog ‘n graad of diploma in die bestuur van hoëronderwysinstellings in Israel behaal.

Dr. Le Lene Quesenberry
Dr. Le Lene Quesenberry

Die derde kandidaat, die Amerikanerin, dr. Le Lene Quesenberry, was tot einde verlede jaar waarnemende presidente van The Royal University for Women in die koninkryk van Bahrein. Volgens haar LinkedIn-profiel beskik sy oor ‘n Ph.D. in regte van die Universiteit van Gonzaga in Washingtonstaat in die VSA. ‘n Soektog op Google Scholar het geen resultate met maar naam opgelewer nie. Google Scholar bevat gewoonlik titels van akademiese publikasies of verwysings na sulke publikasies. Op haar LinkedIn-profiel word slegs drie liggewigartikels aangedui. Maar sy is Russies en Arabies magtig wat seker in Bloemfontein handig te pas kan kom.