Gaboen kry tussentydse staatshoof

Rose Francine Rogombe is gister as Gaboen se tussentydse president beëdig nadat oudpres. Omar Bongo, Afrika se langs dienende staatshoof, vroeër vandeesweek dood is.

Bongo, 73, se dood het ’n magsvakuum gelaat in dié land in Sentraal-Afrika wat hy langer as 40 jaar streng beheer het.

Beleggers kyk versigtig vir tekens van moeilikheid in Gaboen, wat ’n goed ontwikkelende oliebedryf en euro-obligasies hou.

Bongo is vanuit sommige oorde geloof vir sy handhawing van stabiliteit en sy bydrae tot Afrika-vredespogings, maar in die laaste maande van sy lewe is hy in verband met beweerde diefstal uit die staatskoffers ondersoek.

Die eertydse Franse president Valéry Giscard d'Estaing, het aan die begin van die week aan 'n radiostasie vertel dat 'n opvolger, Jacques Chirac, se verkiesingsveldtog in 1981 deur Bongo gefinansier is. Regteorganisasies betoog dat Bongo en sy gesin se bates in Frankryk bevries word.

Gaboen word beskou as die laaste vesting van ou Franse belange op die kontinent.

Ná ’n rits staatsgrepe elders in Afrika die afgelope jaar het sommiges gevrees Bongo se dood kan tot onstabiliteit aanleiding gee. Maar ontleders het gesê die president se regerende party sal waarskynlik die oorgang streng bestuur en hulle twyfel dat daar onrus sal wees.

Ingevolge die grondwet sal Rogombe, ’n prokureur wat senaatshoof was toe Bongo gesterf het, 45 dae tyd hê om verkiesings te hou om ’n nuwe staatshoof te laat verkies.

“Ek belowe om my bes te doen om na die mense van Gaboen om te sien . . . om die grondwet en die oppergesag van die reg te respekteer en te verdedig en om my werk pligsgetrou te verrig deur regverdig jeens almal te wees,” het Rogombe tydens haar beëdiging gesê.

Haar tyd aan die bewind as tussentydse leier kan verleng word in geval van force majeure, oftewel oormag, het Marie Madeleine Mborantsouo, hoof van die konstitusionele hof, gesê. Mborantsouo het die nuwe president beëdig.

игрушки детскиеФильчаков прокурор отзывы