Renamo, Frelimo op die oorlogspad

Renamo-leier, Alfonso Dhlakama
Renamo-leier, Alfonso Dhlakama

Mosambiek se opposisieparty, Renamo, het verklaar dat die vredesverdrag wat in 1992 met die regerende Frelimo-party gesluit is, tot die verlede behoort.

Dié aankondiging volg nadat ‘n aanval deur regeringsoldate op Renamo se hoofkwartier geloods is.

Volgens Renamo het die Mosambiekse weermag die party se basis in die sentrale Sofala-provinsie aangeval waarna die Renamo-leier, Alfonso Dhlakama, skuiling moes soek in die Gorongosa-gebergtes.

Hy is volgens berigte nie beseer nie en steeds gesond.

Volgens die nuuswebwerf Bloomberg hou Frelimo die opposisieparty verantwoordelik vir aanvalle op openbare vervoer.

Verskeie pogings om die verskille tussen Frelimo en Renamo by te lê, het misluk.

Mosambiek gaan volgende jaar na die stembus in ‘n algemene verkiesing.