Frankryk en Iran in kernsamesprekinge

President Nicolas Sarkozy van Frankryk het Dinsdag ’n sonderlinge vergadering met die Iranse minister van buitelandse sake, mnr. Manoetsjer Mottaki, oor Iran se kernprogram gehou.

“Die vergadering sal ’n geleentheid wees om samesprekings oor kernvermeerdering wat die ses [invloedryke lande] met Iran wil hervat, te bespreek,” het Sarkozy se kantoor vroeër in ’n verklaring gesê.

Amerika, Rusland, China, Frankryk, Duitsland en Brittanje het in April aangedui dat hulle Iran wil nooi na gesprekke om ’n diplomatieke oplossing vir die kwessie te probeer vind, maar die Iranse regering het hul toenadering tot dusver verwerp.

Bilaterale samesprekings op so ’n hoë diplomatieke vlak tussen Iran en een van die lande wat by die kernkwessie betrokke is, is hoogs uitsonderlik.

Dit is die eerste keer sedert Sarkozy in 2007 aan die bewind gekom het dat hy met ’n voorste Iranse minister vergader. Hul ontmoeting vind nege dae voor ’n Iranse presidentsverkiesing plaas .

Die Iranse ministerie van buitelandse sake was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.

Die Weste beskuldig Iran daarvan dat hy in die geheim kernwapens ontwikkel. Die wêreld se vyfde grootste olieverskaffer ontken dit egter en voer aan hy wil bloot kernkragtegnologie hê om elektrisiteit op te wek. Hy weier ook om sy uraanverrykingsprogram te staak, wat ’n vlaag van VN-sanksies tot gevolg gehad het.

Sarkozy vergader Saterdag met die Amerikaanse president, Barack Obama, onder meer oor Iran.

липецк вентилитопкарго развод