‘n Forensiese verslag het bevind dat die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, Pansy Tlakula, aanspreeklik is vir haar rol in die aankoop van die kommissie se nuwe hoofkwartier.
Thuli Madonsela het namens die Openbare Beskermer vroeër ‘n verslag vrygestel wat toon dat Tlakula ‘n “uiters onreëlmatig” rol in die verkryging van die Riverside Office Park gebou, in Centurion, gehad het.
Die kantoorpark is vir die OVK se hoofkantoor gehuur.
Madonsela het onbehoorlike gedrag en wanadministrasie aan Tlakula toegeskryf, asook ‘n botsing van belange met ‘n mede-direkteur waarmee sy glo romanties betrokke is.
Tlakula is daarvan beskuldig dat sy ‘n romantiese verhouding met die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir finansies Thaba Mufamadi het, wat ‘n 20%-belang in Abland het uit hoofde van mede-direkteurskap in Lehotsa Investments (Edms) Beperk.
Die OB het aanbeveel dat die OVK sy ooreenkoms met Abland hersien, aan wie die kontrak toegeken is om die Riverside Office Park gebou te huur.
Madonsela het aanbeveel dat die Parlement oorweeg om aksie te neem teen Tlakula.
Dit is een van die bevindinge van ‘n verslag wat deur die Nasionale Tesourie aangevra is oor die aankoop van die gebou in Centurion oos van Pretoria.
Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het vroeër bevind dat die proses wat Tlakula gevolg het om die huurkoopkontrak van R320 miljoen vir die hoofkwartier te bekom, nie regverdig, deursigtig of mededingend was nie.
Die forensiese ondersoek toon dat die kontrak tussen die OVK en die verhuringsmaatskappy, Abland ook gladnie regverdig of markverwant is nie.
Die betrokke amptenare het luidens die verslag nie die koste oorweeg nie maar dit wat hulle wou hê gekies.