Daar is ook opgemerk dat daar heelwat meer mense in kantoordrag was, wat ‘n duidelike teken was dat die besoekers vanaf die Wallstraatdistrik was.
Eerwaarde Mark Bozzuti-Jones van die Trinity-kerk, Wallstraat, het verlede Vrydag se middagdiens gewy aan hoe om die finansiële krisis te hanteer.
Hy het opgemerk dat daar van die manne en vroue was wat net gesit het in gebed terwyl ander gehuil het ná hulle skielik hul werk kwyt was. Hy het verskeie versoeke gehad van mense wat skielik hulp nodig gehad het om huur vir hulle woonplekke te betaal. Volgens hom is daar duidelike tekens dat die mense totaal uitgeput was.
Die kerk beplan ook om in die volgende paar weke kursusse aan te bied, wat onde andere insluit “hoe om spanning te hanteer in onsekere tye” en “hoe om werksverandering te hanteer".
Net ‘n paar blokke weg was daar ‘n redelike verhoging van mense in sakepakke by die St Peters Kerk. Volgens Vader Peter Madigan was daar in die laaste paar dae hoë vlakke van benoudheid en angs te bespeur onder die mense wat die kerk besoek het. Volgens hom is geloof een van die dinge wat die mens wel kan dra in die baie onseker ekonomiese tye waarin ons vandag lewe.
Die Wallstraatsinagoge het van dié week af begin om saans ook oop te bly om die finansiële werkers tegemoet te kom. Rabbi Meyer Hagen sê dat daar nie soveel van ‘n verhoging wasin die getall wat die sinagoge besoek het nie, maar eerder ‘n verandering in die gereelde besoekers. Hy sê dat die tekens van spanning en kommer baie duidelik is op die gesigte van die mense wat by die groot banke werk.
Die sinagoge is in 1929 gestig, die jaar waarin Wallstraat sy groot ineenstorting beleef het.
