Fifa-euforie moet regmaak wat krom is

‘n Groot triomf met die loting vir aanstaande jaar se Fifa-Wêreldbeker in Suid-Afrika…

Aan die ander kant van die munt is finaal afskeid geneem van Chris Louw, is nog ‘n plaasmoord gepleeg, was daar munisipale onrus en was daar geweld by ‘n vergadering van die opposisieleier, Helen Zille.

Suid-Afrika was nog altyd ‘n land van kontraste, en is gereeld bemark as ‘n land waarin woestyne en reënwoude met alles tussenin voorkom.

Die land het ook ‘n lang fase van liberale idealisme beleef met verskeie digters – of soos hulle dit graag gestel het – die gewete van die volk, wat in selfopgelegde ballingskap oorsee gaan woon en skryf het.

Ander het hier te lande hul penne in ink, en soms gal, gedoop om gestalte aan ‘n idealisme te gee.

Toe daar in die oorgangstydperk ‘n oplewing in misdaad en onstabiliteit was, is verklaar dat dit ‘n tipiese kenmerk van ‘n oorgang is na van ‘n onderdrukkende bedeling wegbeweeg is.

Toe die misdaadtoneel nie mettertyd verdamp nie, en die leiers van die nuwe bedeling die soustrein op allerlei maniere begin bestyg, het die idealisme vir ontnugtering plek begin maak, en het die Boetman-generasie die bliksem in geword. Om te paai is die mees fantastiese oggend- en aandpraatjies gemaak.

Intussen vestig ‘n sindroom dat die Fifa-toernooi ‘n kitskuur gaan bied, en hierdie proses word vanuit verskeie oorde soos koerant-hoofartikels gevoed.

Om euforie op te blaas is goed en wel, maar slegs ‘n baie sterk ballon sonder swakplekke kan groot opgeblaas word sonder dat dit in stukke bars. Om pleisters oor skeurtjies in ‘n ballon te plak help ook nie.

Die probleme onderliggend aan Suid-Afrika soos die groot inkomstegaping, armoede, aanslag op die onafhanklikheid van die regbank, geweldsmisdaad, rommelstrooi en die gees van viktimonologie onder baie mense – ook onder die Boetman-generasie – is te diepliggend om met ‘n enkele toernooi van die tafel te vee. Dit is nie ‘n bitterbek kommentator wat die somber prentjie skets nie, dit word geskets deur Suid-Afrika se dalende trajek op die korrupsiepersepsieindeks, die VN se sogenaamde piesangrepubliekindeks en koerslose gedobber op beleggersvertroueindekse en ander saakmakende indekse.

Harde, visioenêre werk lê voor.

kids modaФильчаков прокуратура харьков