Obama het by ʼn Chicago-nuuskonferensie gesê dat Ferraro se uitspraak “laakbaar is. Die gedagte dat dit vir my ʼn groot voordeel is om ʼn Afro-Amerikaner genaamd Barack Obama te wees en die presidentskap na te jaag is, na my mening, nie ʼn siening wat deur die breë publiek onderskryf word nie.”
In haar brief aan Clinton, waaroor CNN eerste berig het, sê Ferraro: “Beste Hillary, ek bedank vanuit u finansiële komitee sodat ek vir myself kan praat en u kan aanhou om vir uself te praat oor dit wat tydens dié veldtog saak maak. Die Obama-span is besig om my aan te val om u seer te maak. Ek sal dit nie toelaat nie. Dankie vir alles wat u gedoen het en aanhou doen om hierdie ʼn beter wêreld te maak vir my kinders en kleinkinders. U geniet my diepe bewondering en agting, Gerry.”
Clinton se woordvoerder, Howard Wolfson, het gesê dat Ferraro haar pos op eie inisiatief ontruim het.
Die woordewisseling tussen twee Demokratiese leiers – Obama, wat poog om die eerste swart president van Amerika te word, asook Ferraro, wat in 1984 die eerste vroulike visepresidentskandidaat vir ʼn hoofstroomparty was – het vir die tweede dag aangehou soos wat hulle op oggendnuusprogramme van TV-netwerke en kabeltelevisiekanale verskyn het.
Die omstredenheid het begin to die nasionale media kennis geneem het van opmerkings wat Ferraro verlede week teen die Daily Breeze-koerant in Torrance, Kalifornië, gemaak het: “Indien Obama ʼn blanke man was, sou hy nie in dié posisie gewees het nie. En as hy ʼn vrou was (van enige kleur) sou hy nie in dié posisie gewees het nie. Hy is bloot baie gelukkig om te wees wie hy is. En die hele land is vasgevang in die idee.”
Ferraro het gesê dat sy staan by haar bewering dat Obama se sukses in die Demokratiese veldtog “gedeeltelik” aan sy ras te wyte is.
Obama het egter gesê dat indien iemand in sy span sou suggereer dat Hillary Clinton “is waar sy is slegs omdat sy ʼn vrou is” sou hy aanstoot neem.
Clinton het gesê dat sy verskil van Ferraro se opmerkings. In ʼn onderhoud met Associated Press het sy gesê: “Dis jammer dat enige van ons ondersteuners – aan albei kante, omdat ons al twee hierdie ervaring het – dinge sê wat na die persoonlike oorhel.”
Ferraro is die jongste in ʼn reeks surrogaatkandidate wie se kommentaar albei presidensiële veldtogte onstel het. Verlede week het Obama se raadgewer Samantha Power bedank nadat sy Clinton as ʼn “monster” getipeer het.
Ferraro, wat Walter Mondale se visepresidentskandidaat was, het Woensdag gesê dat haar opmerkings nie rassisties was nie en buite konteks aangehaal is.
“Ek het gepraat oor die historiese kandidature en ek het begin deur te sê dat indien mens teruggaan na 1984 en na my historiese kandidatuur waarna ek voorheen verwys het, indien my naam in 1984 Gerard Ferraro was pleks van Geraldine Ferraro, sou ek nooit as visepresidentskandidaat gekies gewees het nie,” het Ferraro op ABC se “Good Morning America” gesê. “Dit het niks met my kwalifikasie te doen gehad nie.”
Ferraro het gesê dat sy ʼn veertigjaarlange geskiedenis van opposisie teen diskriminasie van allerlei tipes het, ras inkluis, en dat sy woedend was oor die aanmerkings van David Axelrod, Obama se hoofmediastrateeg, want hy ken haar en haar rekord.
“David Axelrod, sy veldtogbestuurder, het verkies om dit as ʼn rassistiese uitspraak in te klee want telkens as enigiemand wat blank is kommentaar oor ras lewer – hy het dit met Bill Clinton gedoen en daarin geslaag; hy het dit met Ed Rendell (goewerneur van Pensilwanië en ʼn Clinton-ondersteuner) gedoen en minder geslaag; en hy gaan beslis nie slaag teen my nie,” het Ferraro aan CBS se “Early Show” gesê. “Hy moes my gebel het… Hy weet ek is geen rassis nie.”
