Cobus Schmidt, DA-LP, het Woensdag tydens ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor energie gesê ernstige wanbestuur, soos die 400 000 ton steenkool wat “verdwyn” het, kenmerk Eskom.
Die komitee het Eskom en Nersa se swak hantering van elektrisiteitstariewe weereens vir kritiek uitgesonder.
Schmidt het interne dokumente van Eskom gebruik om daarop te wys dat 80 000 ton steenkool by die Arnot-kragsentrale verdwyn het en 278 000 ton by die Kriel-kragsentrale.
Onnodige aankope van steenkool tydens die elektrisiteitskrisis verlede jaar het tot die vermorsing van miljoene rande gelei het.
Schmidt hou die uitvoerende hoof van Eskom, Jacob Maroga, daarvoor verantwoordelik.
Maroga het voorheen aan die portefeuljekomitee gesê verbruikers kan gerus wees dat “die geld van hoë kragtariewe nie aan ondoeltreffendhede bestee sal word nie”.
Die steenkool wat aangekoop is kragtens Eskom se mandaat om noodaankope te doen, het byna R250 miljoen gekos. Volgens 'n interne dokument van die kragvoorsiener sou die steenkool onder normale omstandighede sowat R70 miljoen gekos het.
Schmidt het gesê Eskom self beweer niemand is boonop daarvoor verantwoordelik gehou nie.
Daarbenewens vermors Eskom R2 miljard per jaar op konsultante en die toekenning van bonusse beloop ook R2 miljard.
Voorts het Schmidt gesê dat “oorbetalings” van meer as R70 miljoen gedoen is waar Eskom vir BHP Billiton betaal het vir swak gehalte steenkool. Die swak steenkool is as as een van die redes vir die probleme met kragopwekking aangevoer.
Steenkoolmyne wat langtermyn-kontrakte met Eskom het, lewer 20% tot 50% minder kole as waartoe hulle kontraktueel verbind is en vervoerkoste wissel tussen R60 miljoen en R150 miljoen per maand.
Die verliese is verder vergroot deur die steenkoolreserwes van 12 dae tot 41 dae te vermeerder.
Volgens Schmidt kan Eskom se direkteure gedagvaar te word vir “growwe nalatigheid” in die bestuur van die land se steenkoolreserwes. Eskom het sy grootste verlies tot nog toe, sowat R9 miljard, gely.
Eskom se aansoek om verdere tariefverhogings sal teen die einde van September ingedien word.
