En wat l? in ?n naam?

Dit is vir my merkwaardig dat die idee van Ryk – of Empire – vir ’n lang tyd dormant gelê het. In akademiese kringe was dit slegs die gemarginaliseerde (maar onder hulle die mees hardnekkige) neo-Marxiste en neo-Gramsciane wat die woord geuiter het, as ’n beskrywing van en verklaring vir ongelykheid en ongeregtigheid in die wêreld. Maar oor die afgelope vyf jaar of wat was daar ’n herlewing – in sowel akademiese as populêre kringe – van die idee van Ryk, en meestal is dit in die vorm van beskuldiging wat in die rigting van die VSA gegooi word. En dit is die ander kenmerk van Empaaier in vandag se konteks – dit is ’n begrip wat oorwegend pejoratief of negatief gebruik word.

[…]

Die eerste is die reaksie deur Hugo Chávez, president van Venezuela, op ’n week lange besoek deur president George W Bush aan Latyn-Amerika in Maart vanjaar. Terwyl Bush hom in Brasilië teenoor Da Silva, die Brasiliaanse president, die toenemende neiging van verset en radikalisering teen die VSA in Suid-Amerika beklaag het, het Chávez homself aan die ander kant van die Río de la Plata, in Montevideo, Uruguay, geplaas en opgewarm vir ’n anti-imperialistiese optog (teen Bush se besoek). Terwyl Bush en Da Silva ’n nuwe handelsooreenkoms onderteken het, het Chávez Bush as ’n "politieke kadawer, ’n gulsige Amerikaner en huigelaar" uitgekryt.

Die tweede gebeurtenis is ’n onlangse besoek aan die VSA, waarheen ek is om aan ’n vakkongres deel te neem. Daar was ek verstom om onder die meer as 200 paneelgesprekke op die program (dit verteenwoordig 3 200 deelnemers en referate) te sien dat ’n beduidende aantal oor Amerikaanse Empire was. Ek het ’n paar van dié paneelgesprekke bygewoon, en was nog verder verbaas om te hoor hoe hewig die Amerikaanse akademici die toepaslikheid van "Empire" as ’n titel vir hul eie staat besweer het.

Wat is dit oor Empaaier wat enersyds so verloklik is, die verbeeldings aangryp, dat ons selfs weer daaroor begin boeke skryf en gesprek voer, maar andersyds so weersinwekkend is dat dit as ’n aanklag, eerder as – vanuit ’n akademiese oogpunt – ’n objektiewe beskrywingsterm beskou word? Is Empaaier hoegenaamd die gepaste benaming vir vandag se groot moondhede?

 
[…]

Ek wil in hierdie rede twee dinge doen. Die eerste is om die eienskappe van politieke Empaaier, soos wat dit van toepassing in vandag se internasionale sisteem is, onder die loep te neem. Terwyl ek hier wel wil fokus op wat die mees gepaste wyse is om na Empaaier te kyk, wil ek veral kyk na wat die groter konnotatiewe belangrikheid (of bybetekenis) van die konsep/naam is. Om Wittgenstein doelbewus verkeerd aan te haal: die belangrikheid van ’n woord lê nie in hoe dit gedefinieer word nie, maar in hoe dit gebruik word. En dit is duidelik dat daar ’n normatiewe konteks is waarbinne die begrip Empaaier ontplooi of afgesweer word, en ’n polities-retoriese instrumentaliteit waaraan die begrip gekoppel kan word. Teen hierdie agtergrond wil ek kyk na die plek van Suid-Afrika in ’n toenemend veelvlakkige of gekalibreerde wêreldsisteem.

 
[…] 
My vakgebied is Internasionale Betrekkinge, waar ons ons – kortom – bemoei met die hoe, wat en waarom van wêreldorde.
 
[…]

Vir ’n redelik lang tyd was die konsensusantwoorde op hierdie vrae die volgende: dat ons heel geredelik die wêreldsisteem kon bestempel as een bestaande uit ’n versameling van soewerein-territoriale state (vandag knap oor die 200 van hulle), dws juridies-politieke entiteite wat drie eienskappe dra: ’n afgestemde geografiese gebied wat daardie entiteit van ’n ander skei; die reg wat daardie entiteit dra om alleen-jurisdiksie (of soewereiniteit) oor sy gebied te kan uitoefen met die bepaling van reëls en die neerlegging en afdwing van wette; en ’n bevolking wat lojaal aan daardie entiteit is. Hierdie sisteem het maar ’n onlangse oorsprong, te wete, met die beëinding van die Dertigjaar-Oorlog, daardie bloedige oorlog oor godsdiens, en die ondertekening van die Vrede van Wesfale in 1648, waar die keiserryke van daardie tyd ingestem het tot die beginsel van soewereiniteit. So, terwyl daar belangrike verskuiwings sedertdien was – ek noem van hulle nóú vir u op – bly die samestellende eienskappe vanaf 1648 nog dieselfde wêreldorde wat geografies-territoriaal afgestem word en wat gehandhaaf word op die oorkoepelende beginsel van soewereiniteit. Die verskuiwings waarna ek pas verwys het, hou meestal verband met ’n ongekende tydperk van globalisering en alles wat daarmee gepaard gaan – soos die simboliese en tegnologiese inkrimping van grense; die ontstaan van nuwe staatsmoondhede (Indië en die Volksrepubliek van Sjina); die toenemende belangrikheid van niestaatsakteurs soos multinasionale maatskappye en nieregeringorganisasies.

Dus, toe George Bush snr in 1991 triomfantlik die VSA se eerste militêre optrede teenoor Saddam Hussein se Irak teen die agtergrond van die onlangse val van die Sowjetunie as "’n nuwe wêreldorde" huldig, was hy duidelik voortydig: die essensie van die wêreldorde duur voort, maar die magsbalans het wel verander. Die wêreldorde wat ons uit die as van die Dertigjaar-Oorlog in Wes-Europa geërf het, het enersyds die begin van die einde van keisserryke gesein (die doodskoot is deur die Eerste Wêreldoorlog toegedien aan die laaste drie oorblywende ryke – die Britse Ryk, die Osmaanse Ryk en die Ooster-Hongaarse Ryk) en andersyds die ontstaan van die interstaatstelsel.

Dit is ook waarom dit vir my so opmerklik – en belangrik – is dat daar oor die afgelope klomp jare ’n oplewing was – in sowel akademiese as populêre kringe – van die begrip Ryk of Empire. Die verklaring hiervoor lê, kortom, in die toenemende vlak van militarisering van internasionale politiek/betrekkinge, ontketen deur die vlaag van terreuraanvalle teen Westerse moondhede vroeg in die nuwe millennium, maar intussen vererger deur die sogenaamde globale oorlog teen terreur. Waar die term imperialisme vroeër geredelik gebruik is om die ekonomiese oormag van die VSA in die wêreld, sy kulturele dominansie, die verspreiding van ’n sekere vorm van kapitalisme, en laastens die ongelyke wyse waarop globalisering oor die wêreld ontvou het, te beskryf, is dit die byvoeging van blatante, eensydige en in sommige gevalle onwettige, militêre magsvertoon deur die VSA wat hom daardie onaangename en onverwelkomde titel van "Empire" laat kry. Wat met die aanwend van hierdie naam bedoel word, is dat die VSA uitermatig dominant is, en soms buite die grense van die aanvaarde beginsels van die Wesfaliese staatsisteem optree. Met ander woorde, Empaaier word nie bloot ontplooi as ’n beskrywing van heerskappy nie, maar word gelykgestel aan heersugtigheid.

In ’n objektiewe sin is daar egter velerlei redes om die VSA nie as empaaier te verklaar nie – en by verlenging die groter hedendaagse wêreldsisteem – maar as iets anders.

Eerstens, laat ons nie vergeet nie dat hiërargie ’n intrinsieke en deurlopende eienskap van wêreldorde was, of laasgenoemde in die vorm van keisserryke was (soos in die feodale tydperke in Europa en Asië), of in die gedaante van vorstehuise of reekse koninkryke en outonome stadstate. Oppermag word gewoonlik bepaal deur ’n eenheid se toegang tot en beheer (meestal militêr) oor noodsaaklike bronne, en met die ontstaan van geldekonomieë, die invloed wat ’n eenheid uitoefen oor die produksie, versameling en verspreiding van kapitaal. Twee dinge onderskei vandag se interstaatstelsel van ander vorme van hiërargiese heerskappy van vervloë dae: (i) dat dit nie gelokaliseer nie, maar universeel is, en (ii) dat sy groei saamhang met die oprig van instellings wat mag binne territoriale gebiede sentreer, en dus die verspreiding van kapitalisme waarborg.

’n Verdere rede is dat drie elemente in die klassieke definisie van politieke empaaier teenwoordig moet wees (Doyle): (i) daar is sistematiese interaksie tussen die metropool en die periferie, waar die eerste een interne en eksterne politieke beheer oor die tweede uitoefen (en met ’n mate van legitimiteit); (ii) die verhouding tussen die twee is asimmetries; en (iii) die metropool is monolities in gedaante terwyl die periferie verstrooi of gefragmenteer is. Dink maar aan die wye geografiese omtrek van die Romeinse Ryk, terwyl sy politieke hart in ’n baie klein gebied gesetel was.

Vandag is dit meer korrek om die wêreldsisteem as uni-multipolêr te beskryf – bestaande uit een sterk magskern (die VSA) wat ondersteun word deur ander kleiner, dog steeds invloedryke sentra (soos die Europese Unie), kleiner "Westerse" moondhede soos Kanada, Australië en Japan, ander lande soos Sjina, Indië en Suid-Afrika, en ook toenemende rolspelers soos General Motors, Adidas, ens. Wat die eenhede in hierdie sisteem verbind, is die feit dat daar min of meer konsensus bestaan oor sake wat fundamenteel is tot die behoud van die sisteem – soewereiniteit en kapitalisme. Hierdie konsensus is voldoende om, wanneer daar magte voordoem wat die samestellende beginsels en praktyke uitdaag (soos met Al-Qaeda), verskeie instellings en aksies te kan gebruik om dit in die kiem te smoor.

Oor al die eienskappe van Empaaier beskik die VSA dus nie. Mens kan wel sê dat die VSA imperialisties optree. Méér nog, in die skadu wat die land oor ander state en eenhede in die internasionale stelsel werp, is die land hegemonisties. ’n Hegemoon beset ’n posisie van dominansie, en hy oefen sy mag stilweg en meestal onbespeurbaar uit, nie soseer deur brute krag nie, maar deur oorreding, instemming en konsensus. Terwyl ’n hegemoon in sekere opsigte noodsaaklik is om stabiliteit in die stelsel te verseker, berus sodanige stabiliteit op die artikulering van stelle norme en reëls wat sy belange dien. Instemming deur die ander tot sulke norme en reëls geskied dikwels ook nie sonder ’n prys nie.

 
[…] 
Dit is teen hierdie agtergrond dat ’n mens Suid-Afrika se plasing in die wêreldsisteem, en sy rol in die Afrika-vasteland, moet lees: internasionaal ’n land van middelslag-grootte en -invloed wat ’n belangrike rol van brugbou tussen die groot wêreldmoondhede en kleiner Afrika-state speel. ’n Meer siniese vertolking sien sy rol as oordraer van die norme van die stelsel, en as’t ware as normaliseringsagent binne hierdie stelsel. Nader aan tuisgebied werp hy ook sy eie skadu. In hierdie opsig kan ’n mens sê dat Suid-Afrikaanse hegemonie in Suider-Afrika en in die res van Afrika saamhang met die bevordering van ’n sekere vorm van globalisering wat ’n groter vlak van interafhanklikheid – maar ook fragmentasie – teweegbring.

[…]

’n Bietjie meer as ’n dekade gelede het akademici, ander Afrika-denkers en die leiers van die lidstate van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap byeengekom om die aard en lot van Afrika in die era ná die einde van apartheid te bespreek. Twee stellings is gemaak wat, met nabetragting, profeties was. Die een was deur Kader Asmal, destyds tyd nog ’n minister in Nelson Mandela se kabinet, en die ander deur Adebayo Adedeji, ’n diplomaat en welbekende akademikus uit Wes-Afrika. Die stellings was soos volg:

The central focus of this (workshop) is South Africa’s re-entry into the African family. There is a sense in which we have always been part of the continent … Our integration into the affairs of the continent, as a result, will be a joyous homecoming because we are of the same flesh. Not surprisingly therefore, we believe that all of the policies of our country should reflect the interest of the entire African continent.
(Asmal, 1996:31)

Will South Africa’s future be one in which, at last, the needs of the majority population are addressed? Will due attention be given to restructuring hegemonic relations with South Africa’s neighbours towards more equitable, fair and less tense ones? Will South Africa stand up for its own and Africa’s interests against the continent’s growing international isolation? Or will the country’s leadership allow itself to be veered away from its anchoring roots, steered by a globalizing perspective which marginalizes its own immiserized classes as well as the immiserized continent?
(Adedeji, 1996:3-4)

Hierdie stellings is gemaak in die konteks van die baie moeilike verhouding wat tussen Suid-Afrike en sy buurstate ontwikkel het gedurende die apartheidjare. Ná 1994 was die normatiewe verwagting groot dat Suid-Afrika sy kant sou bring in die oplewing van die res van Afrika. Dit was ongesê, maar ook wyd aanvaar, dat Suid-Afrika geen ander keuse gehad het nie as om Afrika op te beur indien dit enigsins self ’n toekoms wou hê nie.

Wanneer ’n mens egter ’n blik werp op Suid-Afrika se ekonomiese en politieke betrokkenheid in veral Suider-Afrika sedert 1994, wil dit lyk asof die land, soos van ouds, opgetree het teenoor die vasteland asof dit sy "agterjaart" is: dit is mees kras getoon met Suid-Afrika se optrede in Lesotho in September 1998, maar is baie meer subtiel en indringend op die vlak van ekonomiese penetrasie en die heersende posisie wat Suid-Afrika daardeur verkry.

Die syfers is nogal verbysterend: in 1999 was die totale vlak van handel tussen Suid-Afrika en ander SADEK-lande R20,3 m. Driekwart van hierdie handel was uitvoere na die ander lande. Suid-Afrika handhaaf ’n baie hoë handelswanbalans met SADEK-lande – gemiddeld staan dit teen ’n 9:1. Op individuele vlak is daardie wanbalans soms oorweldigend. In die geval van byvoorbeeld Angola is die verhouding 22:1.

Daar is twee oorhoofse eienskappe van Suid-Afrika se ekonomiese indringing in die res van Afrika. Die eerste is dat dit aan die spits gedryf word deur ’n klein groep firmas wat sekere sektore verteenwoordig – telekommunikasie (Vodacom, MTN); kleinhandel (Shoprite, Woolworths); vermaaklikheid (Protea Hotel, Nu-Metro, Exclusive Books). Die tweede eienskap wat hieruit spruit, is dat dit nie die fabrieksektor is wat deur Suid-Afrikaanse firmas geteiken word nie, maar die verbruikersektor. In hierdie opsig weerspieël hierdie aard van ekonomiese penetrasie deur Suid-Afrika eienskappe van globalisering in die res van die wêreld: daar word gemik op groei deur die bevordering van verbruikersmarkte, of konsumpsie.

Gekoppel hieraan is ’n groter politieke proses wat gedryf word deur die Suid-Afrikaanse regering, waar op ideologiese vlak die boustene van globalisering – nl mededingendheid, liberalisering – legitimiseer word, hoofsaaklik deur die NEPAD-projek. Alhoewel dit beide polities en ekonomies tov inhoud is, is die NEPAD ’n program van simboliese herkonstruering wat meer gemik is op ’n buitelandse as ’n Afrika-gehoor, en is dit in sy poging om ’n nuwe samestelling van strukturele mag te bied met groter oopheid en toegang tot kapitaal (in die praktyk blyk dit hoofsaaklik Suid-Afrikaanse kapitaal te wees), ’n klassieke vertoning van hegemonie.

Mens kan dit dus stel dat globalisering as ’n instrument van validasie ontplooi word, waar hegemonie as ekonomiese interafhanklikheid verdoesel word. Maar Suid-Afrika se hegemonie is nie volledig nie: dit is duidelik in (i) die onvermoë om beleid en diplomatieke doelstellings rondom samewerking om te sit na praktyk (kyk maar hoe moeilik hanteer Suid-Afrika die diplomatieke tameletjie van Zimbabwe); en (ii) hoe dit nie die volle gedaante en rol van hegemoon – in die voorsiening van streekstabiliteit en ekonomiese groei – kan of wil aanneem nie.

 
[…] 
Dat daar kostes verbonde is aan hegemonie wat dikwels die voordele oorskry. Dit kan vir Suid-Afrika weliswaar probleme meebring.

профессиональная чистка зубов противопоказанияДанильченко Юрий Брониславович компромат