Kom ons dink vir ‘n oomblik logies oor wat met die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die gang is. Vanweë regstellende aksie, transformasie, geweld en alles wat daarmee saamhang, verloor ons ons beste mense na Australië en ander lande. Hulle beskik oor opleiding en kapitaal en kan vir hulself in Suid-Afrika ‘n inkomste genereer. Nietemin word hulle deur owerheidsbeleid en swak regering landuit gedryf.
Terselfdertyd word mense sonder kapitaal en sonder kundigheid in die banke, groot maatskappye, universiteite, staatsdiens en elders aangestel teen aansienlike salarisse. Hulle ontvang dan krediet van die banke, gaan koop huise, motors, televisiestelle, klere en alles wat hul hart begeer, wat weer vraag in die ekonomie skep. Oral word winkelsentrums gebou waar ons Sjinese goedere op skuld aan die sogenaamde “swart diamante” waarvan die advertensiemaatskappye praat, verkoop.
Die laaste maatskappy wat nog klerasie in Suid-Afrika vervaardig het, was Rex Trueform. Hulle kon egter nie met die goedkoper invoere vanuit die Ooste meeding nie en moes hul deure sluit. Suid-Afrika kan nie eens meer in die plaaslike vraag na sement, melk en ander voedselsoorte voorsien nie. Die produksiekant van die ekonomie verkeer op ‘n laagtepunt en verbruik op ‘n hoogtepunt.
Nou onlangs het ‘n takbestuurder van ABSA wat liefs anoniem wou bly, laat val dat sy bank huislenings van tot R700 000 aan kopers van HOP-huise verskaf. So ‘n HOP-huis is gewoonlik 50 vierkante meter groot en kos tot R500 000. Die bank leen dan nog R200 000 by – sonder enige deposito – vir ‘n motorhuis wat nog gebou moet word. In baie gevalle word die motorhuis nooit gebou nie en die R200 000 word op ‘n nuwe motor of ander verbruikersgoedere bestee. Sal die trotse eienaar van ‘n HOP-huis ooit daardie skuld kan terugbetaal binne ‘n stygende rentekoersomgewing? Indien die bank op die eiendom beslag lê, sal hy kwalik ‘n derde van die skuldlas kan delg indien die huis op ‘n veiling beland. Immers het die huis R14 000 per vierkante meter gekos, dieselfde prys as ‘n luuksewoonstel in Londen, Parys of Genève. Blykbaar bestaan daar reeds 20 000 sulke teruggeneemde huise op die banke se boeke.
Maar ons word vertel Trevor Manuel is die mees suksesvolle finansminister in die geskiedenis en Tito Mboweni spog soms dat die res van die wêreld se sentrale bankiers by hom lesse kan neem.
Die grootste seepbel van almal is egter die sogenaamde swartbemagtigingstransaksies self. Weereens word astronomiese somme geld deur die banke aan mense sonder kapitaal of inkomste geleen. Hulle is gewoonlik politici met ANC-bande, vakbondleiers en dergelike meer. Met hierdie geld word aandele aangekoop, gewoonlik teen ‘n afslag op die markprys. Nadat die banke vir hulself aansienlike somme geld in die vorm van kommissies, “struktureringsfooie”, asook “raad en advies”, afgeskep het, sit die pasryk ANC-helde nou met miljoene rande se aandele in ons groot maatskappye.
Solank as wat die aandelebeurs styg, is dit ‘n sogenaamde wen-wen scenario. Die banke het klaar gewen in die vorm van hul kommissies en sekerlik kan bankamptenare hulself groot bonusse vir hul moeite betaal om uit te werk dat 2 + 2 = 5 as dit by swartekonomiesebemagtiging kom. Die swart politici wat by dié transaksies baat, lag al die pad bank toe en word oornag miljoenêrs. Volgens die gangbare wysheid wat ons in die koerante lees en op TV hoor, skep dit “stabiliteit”. Regdeur Afrika is daar ‘n klas van vraatsugtige politici wat bereid is om te moor vir geld en die staatskaste en hulpbronne van hul lande plunder, wat dikwels op burgeroorloë uitloop, maar hier by ons gaan die skep van ‘n superryk swart burgery stabiliteit teweegbring. Of so word ons elke dag verseker deur “die mense wat weet”.
Solank as wat die aandelebeurs en eiendomsmark styg, is daar natuurlik niks wat hierdie kammarykdom wat so fluks uitgedeel word, bedreig nie. Diegene wat vyf jaar gelede aandele op skuld ontvang het, kan hulle vandag verkoop, die skuld teenoor die bank delg en die wins op nog swart afslaankap-Mercedesse en ingevoerde ontwerpersklere gaan uitgee.
Wat gebeur egter as die aandelebeurs en eiendomsmark daal? Dit verteenwoordig die nagmerrie-scenario waarvan u nie in Sake-Beeld of RSG se daaglikse beursverslag gaan hoor nie. In daardie geval gaan die banke nooit die geld wat hulle uitgeleen het, terugkry nie. Die aandele wat daarmee gekoop is in al die swartbemagtigingstransaksies gaan veel minder as die oorspronklike koopsomme plus rente werd wees en afhangend elke ooreenkoms, sal sulke aandele op die mark geplaas word om ten minste ‘n gedeelte van die uitstaande skuld te delg.
Die paniekverkope van aandele deur finansiële instellings wie se eie soliditeit deur die krisis bedreig gaan word, sal natuurlik die JSE nog verder na benede druk. Die kunsmatige likiditeit wat die petrol was vir die huidige opbloei in verbruik, sal net so vinnig omkeer en Suid-Afrika sal weer soos elke ander land ter wêreld die basiese wette van ekonomie moet leer wat bepaal dat geen toename in rykdom sonder ‘n verbetering in produktiwiteit moontlik is nie.
Hoe kan ons produktiwiteit verbeter as ons besig is om al hoe meer goedere van Sjina in te voer? Hoe kan ons produktiwiteit toeneem indien ons kundiges in die vorm van ingenieurs, rekenkundiges, wetenskaplikes besig is om die land te verlaat? Dit is die eenvoudige vraag wat geeneen van die ekonome wat ons op TV sien, wil beantwoord nie. Natuurlik was daar die styging in grondstofpryse wat die mynbousektor bevoordeel het, maar danksy rassistiese regeringsbeleid wat nuwe mynlisensies slegs aan swartes beskikbaar stel, word daar weinig, indien enige, nuwe myne ontwikkel.
Blykbaar word HOP-huise so swak gebou dat hulle na ’n jaar uitmekaar begin val. Dan sit ABSA met gekraakte bakstene wat nie ’n tiende van die R500 000 werd is wat daarvoor betaal is nie. Slegs die buitemure van die HOP-huis kry ’n fondament en die binnemure word sommer op ’n sementvloer gebou.
Die dag as die JSE suidwaarts begin neig, gaan ons agterkom dat hierdie ekonomie met sy wonderbaarlike toename in verbruik en al sy winkelsentrums wat tans soos paddastoele regoor die land verrys soos ’n HOP-huis op sand gebou is. Die stabiliteit wat met al hierdie vinnige geldmaakskemas vir swart politici gekoop moes word, gaan dan in onstabiliteit omskakel. Werkloosheid sal styg. Die laaste bietjie spaargeld wat nog deur die blanke bevolking opgebou is, gaan uitgewis word as die banke se kapitaal deur slegte skuld uitgewis word en hulle nie hul verpligtinge teenoor deposante kan nakom nie. Die res sal deur dalings in batewaardes (aandeel- en eiendomspryse) ingesluk word.
Hoe die huidige kredietprobleme in die Amerikaanse ekonomie gaan uitspeel, weet ons nie. Die invloed daarvan op ons aandelebeurs en eiendomsmark mag egter aansienlik wees. En as die transformasiebel eers geprik is, gaan hy bars. Dan sal ons uitvind hoeveel mooi plannetjies wat deur gierige bankiers met hul oog op hul volgende kommissies en bonusse, water hou en hoeveel nie.
Op ’n manier is die Afrikaner in sy huidige onvryheid afgekoop deur die idee van maklike geld wat op die JSE en in die eiendomsmark bekom kon word. Die dag as ons almal kaal anderkant uitgekom het, sal ons weer die waarde van vryheid en om jou eie ekonomiese beleid te mag bepaal, besef. Gegewe die huidige ontevredenheid onder Afrikaners oor transformasie, mag so ’n toekomstige finansiële krisis selfs aanleiding tot opstand gee.

So pas het die hoof van die Switserse reserwebank, Jean-Pierre Roth, die huidige krisis in die Amerikaanse kredietmark as “ongelooflik” bestempel. Volgens hom is die huidige dalings op aandelebeurse “nog lank nie die einde van die verhaal nie. Daar is vraagtekens rondom die ontwikkeling van die Amerikaanse ekonomie. Iets ongeloofliks het gebeur. Mense wat nóg oor ‘n inkomste nóg oor kapitaal beskik, het krediet onder baie gunstige voorwaardes ontvang. Nou slaan die werklikheid terug.”