Australië, in skerp teenstelling met Suid-Afrika se houding teenoor onwettige immigrante, het weer eens 'n boot met 58 voornemende asielsoekers Woensdag weggewys. Dit is die vierde keer die afgelope tyd dat dié land ekonomiese asielsoekers keer om die land binne te kom.
'n Vlootpatrollie het die boot Dinsdag gestop. Dit bring die aantal omwettige immigrante wat sedert 7 September in die gebied opgespoor is op 213 te staan.
Minister van binnelandse sake, Brendan O'Connor, sê die groep sal na Australië se hoogsekuriteitfasiliteit op Kersfeeseiland in die Indiese Oseaan oorgeplaas word. "Hulle sal aan veiligheids-, identiteits- en gesondheidsklarings onderwerp word om die redes vir hul reis vas te stel," het die minister in 'n verklaring gesê.
"Toestande regoor die wêreld veroorsaak dat groot getalle ontheemde mense op die uitkyk is vir ryk, ontwikkelde lande soos Australië en hulle kan maklik die prooi word van mensesmokkelaars."
Sowat 148 asielsoekers is sedert Saterdag van Australië se noordweskus in bote aangekeer, nadat 7 op 7 September gevang is.
Indonesiese owerhede het verlede week ook 'n boot wat na Australië onderweg was, voorgekeer met 56 mense aan boord.
Australië het nou al meer as 1 000 voornemende asielsoekers ter see opgepik hierdie jaar en die regering het gewaarsku dat duisende sit en wag om uit Indonesië na Australië te reis.
