Asof die krimpende ekonomie nie alreeds verbruikers laat les opsê nie, is twee skokaankondigings gister gemaak: Elektrisiteit gaan baie duurder word en daar is nie verdere rentekoersvelagings op die horison nie.
Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het ’n kragtariefverhoging van 31,3% toegestaan nadat Eskom 34% gevra het. Dié verhoging tree op 1 Julie in werking en geld tot 31 Maart volgende jaar.
Ontleders sê dit sal verbruikers regstreeks en onregstreeks raak. Huishoudings gaan aan die einde van die maand ’n heelwat hoër kragrekening ontvang, maar hulle gaan ook meer vir goedere en dienste betaal.
Dis moeilik om presies te sê net hoeveel dit sal beloop, maar dit sal beslis ’n kettingreaksie veroorsaak wat ’n negatiewe uitwerking op inflasie en rentekoerse sal hê.
Mense met ’n kleiner inkomste gaan die ergste getref word. Hoewel armer verbruikers net 15% meer gaan betaal, is dit steeds heelwat hoër as inflasie.
Tito Mboweni, president van die Reserwebank, het gister aangekondig dat rentekoerse vir eers onveranderd sal bly aangesien die kragtariefverhoging ’n probleem gaan wees in die stryd om inflasie te beheer.
Net op grond van die 31,3%-verhoging sal dit tussen 0,5 en 0,6 persentasiepunte bylas tot die maand-tot-maand-kerf in inflasie.
Munisipaliteite gaan die verhogings beswaarlik kan hanteer en 'n hele paar staar bankrotskap in die gesig.
Ondernemings gaan sukkel, maar verbruikers dra uiteindelik die swaarste las. Cosatu het in ’n verklaring gesê Nersa se besluit gaan katastrofies wees.
Cosatu meen klein en middelslagondernemings sal nie die resessie sowel as die stygende kragkoste kan oorleef nie. Hulle voorspel dat meer maatskappye hul deure sal moet sluit en hoër werkloosheid.
