Staatshospitale doen 200 aborsies per dag

acdp’n Gemiddeld van 200 aborsies word daagliks in Suid-Afrika uitgevoer, het dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê.

Die minister het Vrydag in ’n geskrewe antwoord op ’n vraag in die parlement gesê altesame 82 920 aborsies is tussen April 2012 en April vanjaar landwyd gedoen.

Altesame 21 794 van dié aborsies was in Gauteng en 14 357 in die Oos-Kaap.

Motsoaledi se antwoord verwys slegs na aborsies wat by openbare gesondheidsinstansies gedoen is.

Die minister het gereageer op ’n vraag van Cheryllyn Dudley, ACDP-LP, wie se party gekant is teen aborsies. – Sapa

Bloedtoets-uitslae neem staat 26 weke

bloedtoetsDit het die staat se forensiese diens verlede jaar ‘n gemiddeld van 26 weke geneem om die uitslae van ‘n bloedalkoholtoets te verskaf, het dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, aan die parlement gesê.

In ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag het Motsoaledi Maandag gesê die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria het in 2012 meer as 23 800 bloedmonsters ontvang om te toets. Dit het ‘n gemiddeld van 26 weke geneem om die uitslae te ontleed vanaf die tyd wat die polisiekantoor dit gestuur het.

“Twee weke is bygevoeg vir die druk, ondertekening en die afhaal van verslae,” het Motsoaledi gesê.

In 2011 het die laboratorium sowat 17 000 monsters ontvang, maar die omkeertyd was ‘n maand langer.

Motsoaledi het gesê in 2010 het dit gemiddeld 24 weke geneem en in 2005 – toe die laboratorium 7 800 monsters ontvang het – 14 weke. – Sapa