UV begin dissiplinêre verhore oor amok by kampus

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) sal na verwagting aantwoorde verskaf oor die dissiplinêre verhore wat glo Vrydag sal begin.

Die verhore hou verband met die voorval vroeër vanjaar waarin verskeie ontevrede kontrakwerkers, studente en ander belanghebbendes ‘n varsitybeker-rugbywedstryd op Shimlapark onderbreek en swart en wit studente handgemeen geraak het.

Dit is nie bekend of die instelling wit studente gaan vervolg nie.

Die UV se woordvoerder, Lacea Loader het gesê ‘n mediaverklaring sal Woensdag uitgereik word, maar wou nie verder kommentaar lewer nie.

Verskeie UV-studente het glo reeds briewe ontvang het dat hulle Vrydag voor ‘n dissiplinêre komitee by ‘n hotel in Bloemfontein moet verskyn.

Dit is nie bekend by watter hotel nie.

Die openbare orde-eenheid is klaarblyklik op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas weens dreigemente van verdere geweld.

Bewsaardes dreig om opnuut oproerig te raak omdat die briewe op kort kennisgewing uitgedeel is.

Diegene wat briewe ontvang het, word van aanranding met die doel om ernstig te beseer, openbare geweld en die beskadiging van die universiteit se goeie beeld aangekla.

Na wat verneem word, het lede van die universiteit se sekuriteit en die polisie reeds vergader om veiligheid op die Bloemfontein-kampus verder op te skerp.