The Age, ‘n Australiese koerant, publiseer onlangs’n onderhoud met Michael Scheuer, voorheen ‘n lid van die CIA, die Verenigde State se geheime diens. Onder die titel “West will fail, says ex-CIA operative” (The Age, 11 July 2007) verduidelik Mnr Scheuer waarom die Weste se militêre avonture in Irak en in Afghanistan uiteindelik onsuksesvol sal wees.
Mnr Scheuer se idees is nie verrassend nie. Dit is taamlik lankal duidelik dat die Westerse Koalisie vasgeval het in beide Irak en Afghanistan, en dat hulle toenemend sukkel om toestande af te dwing wat aansprake op oorwinning regverdig. Inteendeel, Al Kaida-vegters (of -terroriste, soos hulle in die Westerse pers genoem word) en hulle bondgenote wat eerder vir politieke as religieuse redes veg, is te gewillig om te veg en te sterf, en ontneem sodoende die Koalisie van ‘n oorwinning. Ten spyte van die onlangse “surge” of intensivering waarmee die Verenigde State 30,000 addisionele troepe Irak toe gestuur het om onluste en insypeling onder bedwang te hou, duur geweld onverpoos voort, en is Amerikaners tuis besig om teen die oorlog te draai.
Mnr Scheuer beweer dat die Weste eerstens nie genoeg troepe na Irak gestuur het nie, en tweedens dat daar ‘n fundamentele misverstand in die Weste heers oor Islam se uiteindelike doelwitte en griewe. Dit is verrassend dat die honderdduisende troepe en miljarde rande se toerusting, kundigheid en ander hulp, wat die Amerikaners na Irak gestuur het, skynbaar nie as genoeg beskou word nie. Die VSA, wat die rykste en enigste hipermoontheid is, is sover dit hulle weermag betref, beter en vollediger toegerus as enige ander land ter wêreld, sommer verreweg.
Ten spyte hiervan, is dit duidelik dat die Amerikaanse leer dun versprei is oor Irak, en dat hulle toenemend uitgeput word deur die aanhoudende en suksesvolle aanvalle deur insypelaars en Al Kaida-vegters. Dit is nog steeds, in ons moderne wêreld, merkwaardig hoe die wilskrag om te veg die kern van oorlogvoering is. ‘n Soldaat mag die beste wapens besit, met die beste opleiding, maar as duidelike doelwitte ontbreek, en as die wilskrag om te veg ondermyn word, kan selfs so ‘n soldaat verslaan word.
Mnr Scheuer se tweede opmerking dat daar ‘n fundamentele misverstand in die Weste heers oor Islam se griewe, word dikwels geopper en berus op twee aannames. Die eerste is dat die Weste in die Midde-Ooste betrokke is met die uitsluitlike doel om olie te bekom. In dié opsig is olie van fundamentele belang in Westerse ekonomieë en ‘n onderbreking in die verskaffing van olie kan vinnig tot ‘n rampspoedige ekonomiese depressie lei met erge gevolge ook in Suid Afrika en ander onbetrokke lande. Daar is ook toenemend tekens dat olievelde in ander wêrelddele uitgeput word (olieproduksie in die Noordsee en uit Meksiko se groot Canterella-veld is vinnig besig om te verminder). Dit maak die olie-velde in Irak en Saudie-Arabië nog belangriker in die Westerse ekonomieë en regverdig die direkte inmenging van die Weste in die Midde-Ooste. Die tweede aanname oor Islam se griewe is dat die historiese Westerse ondersteuning van Israel die Islamitiese lande van die Weste vervreem.
Intussen word meer en meer verwyte in die Amerikaanse senaat oor-en-weer geslinger oor “who lost Iraq?” en is president Bush besig om in ‘n geïsoleerde figuur wat nogtans dapper voortmarsjeer na ‘n onbereikbare doel te verander. Die politieke konsensus onder Demokrate in die VSA, en nou ook toenemend onder Republikeine, is dat Irak nie gered kan word nie, dat die oorlog ‘n flater was, en dat die onttrekking van Amerikaanse troepe ‘n voldwonge feit is. Indien nie nou nie, dan definitief onder ‘n nuwe president wat Bush sal opvolg (dit begin toenemend lyk asof Hillary Clinton en Barak Obama die volgende president en vise-president gaan wees).
Dus, die VSA en die Weste, gaan die oorlog in Irak verloor in die sin dat voorwaardes waarop ‘n oorwinningsaanspraak gemaak kon word, nooit geskep is nie. Intussen sleep die oorlog in Afghanistan ook voort, teen ‘n laer intensiteit as in Irak. Dit is egter nou duidelik dat Westerse pogings om die Taliban omver te werp en om ‘n pro-Westerse regering in Afghanistan aan bewind te plaas net kan kan werk met aanhoudende en direkte militêre inmenging. Die aanwesigheid van Westerse (Christen) troepe in Islamitiese lande radikaliseer mense in die lande, en ook in nabye kernmoonthede soos Pakistan, met die gevolg dat die troepe teikens word vir insypelaars vanuit beide Afghanistan en Pakistan. Soos in Irak ontbreek duidelike voorwaardes om te wen, en die gevolgtrekking deur Mnr Scheuer is dat oorwinning ontmoontlik is binne die een of twee jaar voordat troeponttrekkings onvermydelik word.
Die merkwaardige feit rondom artikels in Westerse koerante oor die oorlog in Irak en in Afghanistan is die mate van ontkenning dat die gebeure op 11 September 2001 die onderliggende rede was wat uiteindelik Westerse troepe na Irak en Afghanistan sou stuur. The Age verwys nie eers na 07/11 nie, en nòg Mnr Schreuer nòg die koerant verbind die VSA of Australië se militêre avonture in die Islamitiese wêreld met aanvalle in Bali of in New York, of in London, of in Madrid. Die aanvalle in Madrid met Spanje se vinnige ontrekking uit Irak daarna, het aan Al Kaida bewys dat die Weste nie ‘n lang oorlog kan veg nie, ten minste nie effektief nie, en dat die psigologiese verwydering tussen 07/11 en Irak besig is om die Westerse oorlogspoging te ondermyn.
Derhalwe die onlangse belangrike opmerking deur die Amerikaanse bevelvoerder, generaal Petreaus, dat dit dekades geneem het om die insurgensie in Noord-Ierland te oorkom. Vir die oorloë in Irak en in Afghanistan is daar nie dekades tyd nie – demografiese verandering in dié lande, en die onvermoë van Westerse demokrasieë om beginselvas te veg, maak dit onmoontlik. Dus die gevolgtrekking deur Mnr Schreuer dat die oorlog reeds verlore is.
Die interessantste feit egter, is dat Mnr Schreuer die idee dat Islam op ‘n veroweringstog is om die Weste uiteindelik te domineer, of heeltemal ignoreer, of nie as belangrik ag nie. Dit blyk instede dat hy die oorlogsteater net tot die Midde-Ooste beperk, en die Weste steeds as onaantasbaar beskou. Oor hierdie beskouing sal die geskiedenis nog ‘n beslissing lewer.
купить липецк пластыри диагональныеОлександр Васильович Фільчаков