Vandag bereik Solidariteit en Afriforum se veldtog teen ABSA se transformasiedruk op die Suid-Afrikaanse Rugby-unie voorlopig ‘n hoogtepunt. Samesprekings gister het op ‘n dooiepunt uitgeloop.
Op verskeie webwerwe gons dit oor ‘n ontluikende Afrikanerbank, Oranjekas, wat stellig veel uit die debakel gaan wen. As net die helfte van die ABSA-kliënte wat op verskillende webwerwe dreig om hul rekenings te sluit, en ‘n fraksie hiervan na Oranjekas verskuif, gaan daar nog ‘n beduidende rolspeler op die Suid-Afrikaanse banktoneel ontwikkel.
Indien dit ABSA se doelwit was om transformasie – soos hy dit verstaan – te bevorder, lyk dit voorlopig minstens asof die teenoorgestelde bereik is. Die rubrieke wat sedert Sondag ter ondersteuning van ABSA in koerante verskyn het, is feitlik almal deur mense van kleur geskryf. Die stortvloed van kritiek kom bykans voor die voet van blankes.
Van ABSA se aanvanklike paaiende woordspel is daar nou ook dae lank niks. Die aanvanklike stil uitvoerende hoof, Maria Ramos, het met ‘n stywe rug tot die kryt, met die karakter van ‘n politieke slagveld, toegetree.
Meer as twintig jaar nadat die laaste apartheidswet uit die wetboek gehaal is, is ras steeds ‘n maak of breek norm. Volgens sommiges is daar nou meer rasgebaseerde wette op die wetboek – in die naam van transformasie – as tydens die hoogtepunt van apartheid. Dit laat ondersteuners van ABSA se standpunt sinies klink in hul aansprake dat dit om nie-rassigheid handel, veral as apartheid steeds as dryfveer voorgehou word.
Elkeen reageer volgens sy persepsie van die werklikheid. Dit geld ook die argumente wat weerskante van die afsnylyn oor die regering se mediaplanne geopper word.
Pas het TLU SA die minister van Arbeid gedaag om feite te bring oor aansprake dat boere op arbeidsinspekteurs geskiet het, en dat dié inspekteurs nou op koeëlvaste baadjies aandring. TLU SA wys tereg daarop dat daar veel minder spanning sal wees as die inspekteurs, soos deur ‘n ooreenkoms tussen die regering en georganiseeerde landbou vereis, ingevolge die protokol vir plaastoegang afsprake vir besoeke maak. Te midde van plaasmoorde – die hoogste per capita voorkoms van moorde van enige identifiseerbare groep ter wêreld – is die nakoming van die protokol ‘n verstaanbare noodsaaklikheid.
Wanneer staatsamptenare ‘n ooreenkoms van hul eie werkgewer oortree en andermansgrond betree, kan dit mos nie die ander party se skuld wees nie.
