Met die toetrede van me. Maria Ramos, Absa se uitvoerende hoof, oor inmenging in rugbyspanne se spankeuses, verdiep die kwotasage, eerder as wat dit uit die vaarwater begin beweeg. Ramos is boonop die eggenote van minister Trevor Manuel en laat, geregverdig of nie, die liggies van politiek helderder brand.
Uit die mediaberigte kan die afleiding gemaak word dat Absa verwag dat SA Rugby sal inval by Absa se eie transformasiebeeld.
‘n Maklike uitkenbare norm om te gebruik om vlakke van transformasie te bepaal, is om op rassegrondslag koppe te tel, en wanneer dit op Curriebekervlak kom, is dit betreklik min swart koppe om te tel. Boonop is hier nog die komplekser maatstaf van swart en swarter, of te wel, etniese swart, wat al telkemale via parlementêre sportkomitee, uitdruklik as “African Africans” uitgedruk is.
Met Absa is die saak nog sensitiewer, omdat dié bank as belangrike bousteen Volkskas gehad het wat oorspronklik as Afrikanerbank ontwikkel het, en hierom steeds baie Afrikanerkliënte het.
Dat kwotas of raskoppetellery ‘n gevaarlike spel is, is gewis. Een van die eerste teenvrae wat gevra is, is hoekom Absa met die BafanaBafana so stram is om die afwesigheid van wit spelers op die veld tydens die wêreldsokkertoernooi te bevraagteken. Van Indiërspelers was daar ewe min te sien, en selfs die bruin spelers is op die oog af verskeie kere betreklik stief behandel. Trouens, die hele toernooi is by tye gekaap as vertoonvenster vir swart Afrika.
Om meer gekleurde spelers, en in die besonder etniese swart spelers op die Curriebekerveld te kry is nie iets wat met kwotas opgelos word nie. Soos die huidige en voormalige kwotaspelers dit uitdruk – dit is vernederend, en veroorsaak boonop dat hulle voortydig rypgedruk word, en so skade opdoen. Van die nie-wit krieketspelers het al met groot verontwaardiging gereageer as vanuit die parlement na hulle as kwotaspelers verwys is, omdat hulle gesteld is daarop om op meriete gekies te word – weliswaar soms ook net tot hulle op meriete weggelaat word.
Sportontwikkeling van grondvlak af, en die voorsiening van geriewe, is belangrik. Dit sal egter mank gaan aan behoorlike vordering as die nasionale doelwit nie gesinchroniseer word nie. En hier is baie wat nog haper. Rugbynuus op swart TV-stasies ontbreek bykans geheel en al. Tipiese swart koerante dra selde, en indien wel, op baie beperkte skaal rugbynuus. As die Openbare Uitsaaier dan nie sy kant met die owerheid se transformasiedoelwitte bring nie, hoekom dan so ‘n onus op sportliggame plaas, wie se internasionale beheerliggame boonop bykans voor die voet politieke inmenging en rassisme verbied. ‘n Mens moet baie sinies wees om nié kwotas as rassistiese optrede te beskou nie.
Soiu Absa nie beter gedoen het deur bv spesifiek rugbyberigte in swart koerante te borg nie, om so dié koerante aan te spoor om meer rugbynuus te dra?
‘n Vraag wat nog nie bevredigend beantwoord is nie, is hoekom daar op laer vlakke soveel bruin en swart spelers is, maar op senior provinsiale vlak raak baie skynbaar weg. Die paar wat wel deurbreek is soos kleinnode en word hewig op gebie, sodat wel vrae gevra kan word oor van die groot bonde se erns om hul eie spelers te ontwikkel. Dié vraag kan egter ook oor ryk unies se erns met die tuisontwikkeling van spelers van enige ras gevra word.
Verhinder politieke korrektheid nie dalk dat belangrike vrae gevra word nie? Internasionaal is dit ‘n bekende en aanvaarde feit dat mense uit verskillende wêreldstreke nie gemiddeld dieselfde lengte behaal nie, en vandag is dit noodsaaklik dat selfs agterspelers groot en sterk moet wees om die Polinisiërs te kan stuit.. Ethiopië en Kenia lewer byvoorbeeld ritse wêreldklas-langafstandatlete op, maar dié lande is nie juis wêreldkragte as dit op die rugbyveld kom nie.
Moenie talentvolle sportlui breek deur hulle in te forseer waar hulle minder talent het nie. Laat elkeen sy Godgegewe talente ontwikkel waar dié talente ten beste ontwikkel en uitgeleef kan word.
Anders gaan mense hul geldelike talente na ander banke skuif.
