Hierdie verslag is gebaseer op terugvoer van 24 000 mense wat regoor die land ondervra is. Totale persoonlike inkomste vir alle rassegroepe het van R31,1 miljard in 2000 tot R66,7 miljard in 2006/07 gestyg. Gedurende dieselfde periode het blankes se inkomste gegroei van R14 miljard (45% van die totale inkomste) na R23,4 miljard (35,2% van die totaal). Swartes se inkomste het gestyg van R13,2 miljard (42,6%) tot R34,7 miljard (52,1%). Die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding se inkomste was in 1994 R2 435, in vergelyking met R5 310 vanjaar.
Oor ’n periode van dertien maande het die swart middelklas met 30% toegeneem van twee miljoen na 2,6 miljoen mense. In 1997 was daar maar 8 766 senior swart bestuurders. Hulle getalle het egter toegeneem tot 28 658 verlede jaar. Gedurende dieselfde tydperk het blanke bestuurders verminder van 30 876 na 22 758.
Die volgende items is die gewildste in Suid-Afrikaanse huise:
· TV: 77% van alle huishoudings
· Yskas: 70%
· Hoëtroustel: 62%
· Elektriese stoof: 54%
· Mikrogolf: 42%
Die Daily Sun is die grootste dagblad in die land met 13,9% van totale lesers. Die Sunday Times is nie ver agter nie, met 11,4% van weeklikse lesers, gevolg deur die Sunday Sun met 8,1%. Business Day beskik oor die rykste lesers, met ’n gemiddelde huishoudelike inkomste van R20 159. In die algemene Afrikaanse kategorie, lees 6,6% van die lesersmark Huisgenoot.
Wat televisie betref, trek SABC1 51,6% van kykers, e-tv 36,8%, SABC2 36,3% en SABC3 23,8%. M-Net het 4,5% van die kykersmark en 6,7% kyk na DStv. Metro FM is steeds die grootste radiostasie met 15,1% van luisteraars wat daarop inskakel, gevolg deur Lesedi FM met 11,5%.
