Soos wat die wêreldmedia met ligte euforie terugblik op Madiba se 90ste verjaarsdag, amper soos wat Suid-Afrika gedoen het na die rugbywêreldbekeroorwinning verlede jaar, sal daar ongetywfeld so hier en daar stemme opkom wat die teenoorgestelde verhaal oor dié man se grootsheid sal verkondig. Daar is gelukkig mense met genoeg politieke insig om nie hulself te laat meesleep met golwe van massahisterie nie. Vanweë my natuurlike agterdog teen die blinde verheerliking van politieke leiers, kan ek myself nogal tuis vind in die wêreld van diegene met afwykende menings.
Dit is inderdaad ’n studie werd waarom Mandela so opgehemel word ondanks die verdriet en ellende wat hy agter hom gelaat het, hoofsaaklik onder sy eie mense. Hy het onder andere in sy outobiografie toegegee dat hy die Kerkstraatbom in 1983 bekragtig het waarin 19 dood en 200 gewond was. Deur sy aanhitsing om Suid-Afrika onregeerbaar te maak, het sowat 21 000 meestal swart Suid-Afrikaners omgekom. Sowel die VN se Misdaad teen die Mensdom Kommissie as die Waarheids -en Versoeningskommissie het die aantal swartes wat direk as gevolg van die vorige regering se sekuriteitsmagte gedood is gestel op 518. Die res is veroorsaak deur diegene wat nie na die ANC se pype wou dans nie. Hoe meer verdriet en ellende’n mens dus saai, hoe groter is die kans om as ’n heilige gesien te word.
Om hierdie vreemde verskynsel nog verder uit te lig kan ons kyk na die aksies van die ander linkse halfgod Ernesto ‘Che’ Guevara. Hierdie man, wie se ystersterk rewolusionêre blik blykbaar die mees bekende gesig ter wêreld geword het, word ook verkeerdelik weergegee in films soos The Motorcycle Diaries. In plaas van ’n dapper stryder teen onreg en liefhebber van vrede en broederlikheid, was hy in heelwat opsigte presies die teenoorgestelde gewees.
Die Kubaanse dissident Humberto Fontova het geskryf dat Che gewoon ’n kille massamoordenaar was. Hy het nie geblik of gebloos toe hy ’n ses maande swanger vrou in die maag geskiet het nie, net omdat haar gesin nie eens was met sy oogmerke nie. Daarbenewens was Che ’n lafaard gewees wat vir weke lang weggesku het na ’n bakleiery, het plesier daarin gevind om honde dood te skop, was ’n liefhebber van weelde en luukse (sy lewe was gespaar gewees toe ’n koeël van sy Rolex se horlosieglas afgekets het), en vir hom was die Sowjet-Unie onder Kroestsjof veel te saggeaard gewees, en het daarom liewer met Mao onderhandel. O ja…hy was ook baie bang gewees vir motorfietse.
Met Mandela en Che in gedagte lyk dit asof daar ideologiese breuke bestaan tussen die noordelike en suidelike halfrond. Amerika het van Che se gesig ’n multimiljoendoller industrie gemaak, en waarskynlik kan Mandela se bankrekening van dieselfde getuig.
Dieselfde kan origens van Moeder Theresa gesê word. Daardie tante het geweier dat haar boekhouding gekontroleer word. Sy het wel medisyne van die swakkes weerhou omdat hulle “moes ly soos Christus”, terwyl sy na die beste Europese hospitale gegaan het vir behandeling as iets haar makeer het.
Mandela se eerste toespraak toe hy vrygelaat is, het gewemel van rewolusionêre taal. Die gewapende stryd moes ondanks alles voortgaan, ongeag lewensverlies. Che het vir ’n hartlike applous gesorg toe hy die VN ambassadeurs in New York opgehits het met taal wat die ondergang van Amerika pleit, tesame met die stelling “natuurlik stel ons mense tereg” en het herhaaldelik “Muerte!” (maak dood!) krete geslaak.
Mandela kan pronk met ’n dodetal van 21 000 van sy mense. Che kan spog met 14 000. Laasgenoemde het geen geheim gemaak van die feit dat hy met die aankoms van kernkoppe op Kuba New York daarmee wou bombardeer nie. Dit is ’n raaisel hoe die ANC se regering met atoomwapens sou omgaan as De Klerk dit nie betyds gedemonteer het nie.
Om weer terug te keer na hierdie vraag: Hoekom word hierdie terroriste verheerlik, terwyl ’n meer gematige terroris soos Milosevic deur die wêreldmedia heeltemaal verguis word? Milosevic was in Den Haag aangekla vir die teregstelling van 8 000 mense onder die noemer “volksmoord”. ’n Mens sou sommer dink dat Milosevic se misdaad is dat hy te min mense gedood het.
Iewers moet daar seker ’n mate van Westerse skuldgevoelens hiervoor verantwoordelik wees. Mandela se vonnis en Che se populariteit het juis plaasgevind ten tye van die dekolonisasie. Die vorige Nederlandse minister van Buitelandse Sake, Hans van der Broek, het dit gestel dat die situasie in Suid-Afrika die gevolg was van Nederland se aktiwiteite. Nederland het met ander woorde skuldig gevoel oor die lot van Suid-Afrika se swartes. Dit verklaar deels waarom Van der Broek vir Klaas de Jonge beskerm het.
Ander faktore wat ’n rol kon gespeel het is die invloed van televisie in Europa en die Verenigde State, wat in dieselfde tydperk massaal deel geword het van elke huishouding. Die Viëtnamoorlog kon in al sy wreedheid in elke huis gebeeldsend word waar die gewone publiek die gruwel kon aanskou van Amerika se wapentuig teenoor agterlike Viëtnamese boere. Beelde van die Vietnamees wat met ’n kopskoot tereggestel word en die jong meisie wat naak wegvlug vir die napalmwolke het die Weste met afsku gevul. Wat egter minder bekend is, is toe die Amerikaanse soldate onder protes weggetrek het uit Vietnam, het Ho Tsji Min vir ’n byna ongekende bloedbad gesorg onder die Viëtnamese wat deur die VSA beskerm was. Nog ’n rewolusionêre hel wat agter die rooi sluier weggesteek is.
Seker die belangrikste medebepaler was die testosteroon van die babyboom-generasie. Jong mense wat na die oorlog gebore was en in hul laat tiener- en vroeë twintigerjare was, het van hul ouers die vreeslikste oorlogverhale gehoor, en dit het hul opstandigheid jeens outoriteit versterk wat later uitgemond het in die Paryse studenteopstande van 1968 en die Maagdenhuisbesetting van die Universiteit van Amsterdam in dieselfde tyd.
Die sosialiste, wat hierdeur oppermagtig geword het, het ’n fees gehad om hul helde te mitologiseer. Che het sy lewe gegee vir ’n stryd teen Westerse oormag. Ofskoon hy deur die Boliwiese weermag gedood is, is die samesweringsgedagte dat die CIA daaragter gesit het waarskynlik die rede vir sy martelaarskap. Mandela het veertig jaar later die Weste “vergewe” vir hul vergrype in Afrika. Tewens het hierdie figure goeie plaasvervangers van Christus as verlosser geword in ’n tydperk waarin Europa se kerke grotendeels leeg staan.
Een van die mees effektiewe propagandametodes wat linkses gebruik is meerderheidskonsensus. Die sielkundige Solomon Asch het met sy konformiteitesksperiment aangetoon hoe effektief hierdie maatreël werk. Kry genoeg mense van verskillende oorde om dieselfde standpunt aan te hang en die res van die bevolking volg hulle menings soos skape, selfs teen ’n mens se nugter verstand in.
Terwyl die Weste nou verlig voel oor Mandela se vergifnis, is die werklikheid van sy land skreiend anders. Dieselfde geld vir Che se geboorteland Argentinië. Daardie land was teen die einde van die negentiende eeu een van die wêreld se welvarendste lande gewees, en het ’n BNP groter as Duitsland of Switserland gehad. Die armoede wat later Suid-Amerika getref het was hoofsaaklik veroorsaak deur die invloed van kommunistiese rewolusionêre gewees. Che het meer moorde op sy gewete as die ‘regse’ Videla of Pinochet gehad, maar omdat laasgenoemde twee pro-Westers was, word hulle soveel as moontlik verketter en Che as ’n held uitgeroep.
Om maar te swyg oor die situasie in Suid-Afrika wat eens op ’n stadium net kortgeskiet het van ’n supermoontheid en nou letterlik in armoede en ’n Hobbesiaanse ‘Oorlog van almal teen almal’ verval het, terwyl Mandela geloof word vir die ‘vrede’ wat hy gebring het.
Weereens bewys hierdie gebeurtenisse hoedat die belangrikste geskiedkundige gebeure eerder bepaal word deur Europa en Amerika se gewetenslas as deur die werklikheid op voetsoolvlak. Om die woorde van die Romeinse historikus Tacitus te leen: “Hulle rig ’n bloedbad aan en noem dit vrede”. Hiermee word ons pynlik herinner dat Francis Fukuyama se voorspelling, naamlik dat die einde van die geskiedenis na die val van de Berlynse Muur sou aanbreek, nie bewaarheid is nie. Die geskiedenis gaan nog steeds voort, waarvan sommiges deelnemers en ander toeskouers is.
Ons kan maar net die futiele hoop koester dat die volgende heilige tog werklik iets goed sal doen vir sy mense.

’n Heilige is iemand wat die volk met ’n sweep regeer en uitmoor, bloot ter wille van die volk self. – Charles Baudelaire