Christel Sassou Nguesso
Denis Sassou-Nguesso, president van Kongo-Brazzaville, is nie baie gelukkig nie. Die nie-regeringsorganisasie, Global Witness, het pas op hul webwerf besonderhede gepubliseer van Christel, die president se seun, se uitspattige uitgawes. Hierdie organisasie stel hom ten doel om korrupsie bloot te lê.
Christel Sassou-Nguesso het onberispelike smaak. Besonderhede word gegee oor sy uitgawes in Parys en Marbella. Daarvoor word betaal met geld wat uit die land se olie verdien word. Christel koop graag klere by Louis Vuitton, Dior en Chanel. Terwyl 70% van Kongolese burgers met minder as 1$ ’n dag moet oorleef, het Christel, wat die Cotrade-bemarkingsarm van die regering se oliemaatskappy beheer, in Augustus 2006 byvoorbeeld $35 000 by Louis Vuitton en Roberto Cavalli spandeer.
Global Witness het hierdie dokumente bekom tydens verskeie hofsake wat tussen Kongo-Brazzaville en sogenaamde “aasvoëlfondse“ in Londen, New York en Hongkong plaasgevind het. Hierdie “aasvoëlfondse“ is finansiële instellings wat hulle in belastingparadyse bevind en wat spesialiseer in die terugkoop van skuldbelaste Derde Wêreldlande se skuld teen lae pryse. Ten einde aan sy skuldeisers te ontsnap, het die Kongolese president besluit dat olie slegs deur middel van “aasvoëls“ verkoop sal word. Alles geskied gevolglik in die geheim.
’n Onlangse hofsaak in Hongkong het aangetoon dat die jonge Sassou-Nguesso, asook die adjunkhoof van Cotrade, Blaise Elenga, se kredietkaartrekeninge betaal word met fondse van maatskappye wat in die belastingparadys Anguilla geleë is. Hierdie firmas is Elenga Investment Limited en Long Beach Limited. Beide behoort aan Elenga en Nguesso. Dié firmas het via ander “dopmaatskappye” geld ontvang wat afkomstig is van Kongo-Brazzaville se olieverkope.
Dit is ’n bekende feit dat korrupsie en wanbestuur in die land se oliebedryf voorkom. In 2006 het Kongo-Brazzaville meer as $3 miljard uit hierdie bron verdien, maar steeds is dit een van die armste lande op die planeet.
job movietopcargo