Hubbard se idees word steeds in die ru-oliemark net skramsweg erken: Finansiële deskundiges in die oliemark is normaalweg ekonome, en hulle glo dat ʼn vraag na ʼn grondstof noodwendig die produksie van die hulpbron sal opstoot. Geoloë en ingenieurs wat in die ru-olievelde werk, is opgelei in fisiese wetenskappe en hulle verstaan beter dat daar harde fisiese perke is rondom die produksie van ʼn grondstof soos ru-olie. Anders as graan of papier, is dit nie hernubaar nie. As ʼn boorgat leeggepomp is, is dit permanent leeg, en geen vraag na ru-olie of nuwe tegnologie sal dit regkry om die boorgat weer produktief te maak nie.
Teen die einde van die vorige eeu het sommige ontleders en sakemanne begin voorspel dat die totale produksie van ru-olie in die wêreld deur ʼn Hubbard-maksimum sal gaan voor 2010. Ru-olie was redelik volop in die laaste dekade van die twintigste eeu, en ekonomiese ontleders en ander politieke kommentators het die voorspellings as kranksinnig afgeskryf. Die term “Peak Oil”, wat verwys na die Hubbard-maksimum, word tot vandag toe nog deur die Pers vermy, met die ongelukkige gevolg dat baie mense totaal in die duister is oor ʼn baie belangrike ekonomiese gebeurtenis. Politieke ontleders, ekonome, en veral politieke leiers, wat soms histeries tekere gaan oor aardverwarming, het nog nie aandag gegee aan die gevolge van ʼn komende energiekrisis wat deur ʼn tekort aan ru-olie veroorsaak gaan word nie. Omdat die wêreld se ekonomie so afhanklik van ru-olie is, is ʼn tekort aan dié grondstof ʼn ramp wat handel en ekonomiese groei erg kan ontwrig, met ʼn gepaardgaande destabilisering van die wêreld se ekonomiese en politieke orde wat sedert die Tweede Wêreldoorlog taamlik stabiel was.
Met hedendaagse rekordhoogtes in die prys van ru-olie op die wêreldmark, word “peak oil” nou meer dikwels gefluister in beskaafde geselskap. Sakemanne soos Matthew Simmons, wat reeds sedert 2000 artikels oor die kwessie skryf, verskyn soms op televisie en in die pers om oor ru-olieproduksie te praat.
Intussen styg die prys van ru-olie genadeloos. In 2000 was dit ongeveer $20 per vat, vandag is dit oor die $90 per vat, en sommige ontleders praat van $100 per vat binne maande of selfs weke. In die openbaar praat deskundiges oor “geopolitieke” faktore wat die prys opjaag (die oorlog in Irak en Venezuela se Chavez wat OPEC manipuleer om pryse op te stoot). In private gesprekke erken hulle dat daar ʼn basiese produksieprobleem is: lande soos Saoedie-Arabië wat die olieprys met ʼn kraan-oop of kraan-toebeleid beheer het, kan die prys nie afbring met verhoogde produksie nie.
Daar bestaan geruime tyd al geheimsinnigheid rondom die oliemark. Lande in die Midde-Ooste beskou data oor ru-olievelde as staatsgeheime en publiseer geen gegewens oor die grote van velde of hulle olievoorrade nie. Wat wel gebeur is dat deskundiges oor dié olievelde soms privaat menings lug, en die gerugte word versamel en in die Weste geïnterpreteer. Daar is dus net skattings oor die totale hoeveelheid ru-olie in die grootste olievelde, en oor die hoeveelheid ontginbare ru-olie. Die beste skattings, wat steeds ongeverifieerd is, is dat produksie van olie en olie-vloeistowwe in 2006 deur ʼn Hubbard-maksimum beweeg het en dat ons sodanig op ʼn produksieplato verkeer waar nuwe tegnieke en beter ontginningsmetodes net ʼn konstante produksie kan verseker. ʼn Stygende vraag veroorsaak dus ʼn fisieke tekort op die mark, met ʼn gevolglike toename in prys.
Terwyl amptenare in Saoedie-Arabië die moontlikheid van ʼn Hubbard-maksimum heftig ontken, is daar deesdae meer tekens dat hulle begin erken dat daar ʼn fundamentele verandering in die produksie van ru-olie aan die gang is. Sadat al-Huseini, voorheen die hoof van eksplorasie en produksie by “Saudi-Aramco” (Saoedi-Arabië se ru-olie ontginnings maatskappy), het onlangs in ʼn onderhoud met David Strachan (ʼn Amerikaanse ontleder van die oliemark) erken dat die produksie van ru-olie in Saoedie-Arabië ʼn “strukturele plafon” bereik het wat eerder die gevolg is van geologie as van geopolitieke faktore. Met ander woorde, Saoedi-Arabië wat normaalweg hulle produksie sou verhoog om wins uit die hoë prys te maak en om die mark te stabiliseer, het ʼn fisieke grens bereik en kan blykbaar nie die hulle produksie opstoot nie. Die gebruik van die term “strukturele plafon” deur al-Huseini is opmerklik, omdat dit eufismisties na ʼn ongemaklike waarheid verwys: Saoedi-Arabië se ontginbare ru-olie is besig om op te raak, en produksie in die land gaan dalk binnekort katastrofies afneem.
Al-Huseimi se opmerking is ʼn merkwaardige erkenning uit die belangrikste olieproduserende land oor ʼn penarie wat die wêreld blykbaar fundamenteel gaan verander. Hy merk ook op dat die vloer van die olieprys (die prys wat ontginning winsgewend maak) met sowat $12 per vat per jaar gaan styg in die nabye toekoms. Hier verwys hy na ʼn ander effek van ru-olieproduksie, naamlik dat dit moeiliker word om ru-olie te ontgin uit ʼn veld soos wat die veld ouer word. Die eerste vate word maklik getap, maar as die veld eers die maksimum in sy produksie behaal, word dit aansienlik moeiliker (en baie duurder) om die ru-olie te ontgin. Selfs gevorderde tegnieke kan uiteindelik nie verhoed dat produksie afneem nie – dit is ʼn les wat Amerikaanse olieprodusente reeds in Texas in die 1970s geleer het.
Daar is verskeie grade ru-olie beskikbaar. Die beste, maklikste raffineerbare grade, word “soet” genoem, terwyl olie wat besoedel is met swawelwaterstof en ander giftige chemikalieë dikwels as “suur” bestempel word. Suur ru-olie is moelik en duur om te raffineer, en produseer besoedelende bybestanddele. Soet ru-olie is dus by voorkeur ontgin, en wat grootliks oorbly is suur ru-olie. Olievelde wat soet ru-olie gee, is sodanig uitgeput dat daar ʼn merkbare afname in die produksie sigbaar is. Beskikbare voorrade Brent ru-olie, ʼn hoë graadse soet ru-olie uit die Noordsee, is vinnig aan die afneem, en is ʼn toonaangewer vir die hoër pryse in die oliemark.
Olieproduksie het histories hoofsaaklik uit groot olievelde in Saoedi-Arabië en die Midde-Ooste, Meksiko, Texas, Alaska, Rusland en die Noordsee gekom. Die laaste reuse-olieveld is in die 1960s ontdek en terwyl die ontdekkings van nuwe velde sedertdien skerp afgeneem het, het die verbruik van olieprodukte toegeneem. Vandag gebruik ons gemiddeld twee tot drie keer soveel olie as wat daar jaarliks ontdek word. Soos olievelde uitgeput word en die vraag toeneem, styg die olieprys in ʼn klassieke illustrasie van die aanbod-prysverhouding in die vrye mark, vanaf ongeveer $20 per vat in 2000 tot meer as $90 per vat vandag. Die belangrikste olieveld op aarde is Ghawar, in Saoedie-Arabië, wat ongeveer een kwart van al die ru-olie wat reeds geproduseer is gegee het. Daar word deesdae beweer dat die veld oor sy Hubbard-produksiemaksimum is en besig is om uitgeput te word. Produksie in die reuse Canterell-olieveld in Meksiko en in die Noordsee-olievelde is besig om vinnig af te neem, en Brittanje sal binne vyf tot tien jaar ru-olie moet invoer om haar ekonomie aan die gang te hou. Hieronder is die produksiekurwe vir Noordsee-olie uit Britse olievelde (figuur 1). Die afname in produksie na die Hubbard maksimum is opmerklik en dramaties. Soortgelyke produksiekurwes is gevind vir die reuse Cantarell olieveld in Meksiko.
Terwyl daar steeds ontleders is wat dink dat geopolitiek eerder as ʼn harde fisiese feit onderliggend aan die prysverhoging vir ru-olie is, kom meer en meer mense (waaronder die voormalige sekretaris van Energie vir die VSA, James Schlesinger, tot die besef dat ru-olie besig is om op te raak en dat die gevolge merkwaardig gaan wees.
Om die invloed van olie op ons beskawing in perspektief te stel, kan mens byvoorbeeld die grafiek in figuur 2 bestudeer. Dit is ʼn voorstelling van die wêreld se ru-olieproduksie van die jaar 0 tot met 4000, en benader toekomstige produksie deur ʼn Hubbard-maksimum in ongeveer 2010 te projekteer, en daarna ʼn simmetriese afname in produksie te postuleer. Die eenheid is miljoene vate per dag as ʼn funksie van tyd.
Die produksie toon ʼn skerp toename gedurende die 20ste eeu, bereik ʼn maksimum tussen 2005 en 2015, en neem daarna vinnig af oor ʼn periode van ongeveer 50 tot 100 jaar. Wat in gedagte gehou moet word, is dat die afname in die kurwe moeilik ontginbare en duur suur ru-olie is, terwyl die toename maklik ontginbare soet ru-olie is.
Die grafiek toon die kort “olietydperk” aan in ʼn historiese perspektief sedert die geboorte van Christus. Voor die “olietydperk” was daar die steenkooltydperk. Dié tydperk het in Brittanje begin in die 19de eeu toe Engeland die eerste nywerheidsland geword het. Engeland se industrialisering het die land die magstigste ter wêreld gemaak en het bygedra tot haar suksesvolle kolonisering van die groot dele van die wêreld. Die steenkooltydperk is deur die olietydperk beëindig en Engeland is deur die oliereus van die wêreld, die VSA, verbygesteek. Die gevolge van industrialisering weens olie is skokkend ten toon gestel in die Eerste Wêreldoorlog, toe industriële produksie in die olie-ekonomie ʼn slagting op ʼn industriële skaal in Europa veroorsaak het. Die VSA gebruik steeds ongeveer een kwart van al die daaglikse ru-olieproduksie ter wêreld, maar ander groeiende ekonomieë se verbruik is vinnig aan die toeneem, wat verdere tekorte op die oliemark veroorsaak en die prys verder verhoog.
ʼn Sekere teken dat ʼn maksimum in olieproduksie bereik is, behoort mens in die prys van ru-olie te sien. ʼn Onverbiddelike en voortdurende prysverhoging waaruit produsente nie kan voordeel trek met verhoogde produksie nie is ʼn markgebaseerde teken dat die produksie nie in die vraag kan voorsien nie. Ryker lande kan die verhoogde ru-olieprys tans in ʼn mate absorbeer, maar armer lande sal aankope nie kan bekostig nie en sonder ru-olie moet klaarkom. Sulke lande trek dus geen voordeel uit die oliemeevaller nie, en kan nie volledig deelneem aan globalisering nie. Sommige lande in dié kategorie kan ons duidelik identifiseer: Somalië en ander state in Oos- en Sentraal-Afrika. Daarby lande in Wes-Afrika soos Tsjad, asook Haïti en Birma:. Die lande is verdoem om brandarm te bly en om nog verder onder te gaan soos wat hulp uit die Weste opdroog as biodiesel uit voedsel vervaardig word wat normaalweg na die Derde Wêreld gestuur sou word om hongersnood te verlig.
Daar is taamlik ruimte in die Eerste Wêreld se ekonomieë om die eerste gevolge van ʼn olietekort te verduur. Die olieboikot in 1970 kan as ʼn historiese voorbeeld in dié geval dien: Eerstens het dit brandstoftekorte veroorsaak, met spoedbeperkings en in sommige gevalle die rantsoenering van petrol en diesel. Tweedens het die olieboikot inflasie in Westerse ekonomië veroorsaak; die gepaardgaande rentekoersverhogings het ekonomiese groei tot ongeveer die middel van die 1980s beperk. Uiteindelik het verhoogde produksie in die OPUL-lande, asook hoëgraadse Noordsee- en Meksikaanse ru-olie, op die mark meer as twintig jaar se ekonomiese opbloei in die Weste tot gevolg gehad: dit is opgesom deur Ronald Reagan se opmerking dat “It is morning in America”.
Die oliekrisis in 1970 was egter van korte duur en in elke opsig ʼn tydelike energiekrisis. Die komende energiekrisis is ʼn permanente toestand en net ʼn onvoorsiende nuwe energiebron kan dit vermy. Daar is egter geen tekens dat wetenskaplikes en ingenieurs enige idees of produkte het wat die energiekrisis kan verhoed nie. Windenergie, energie uit die getye, selfs kernkrag en steenkool, kan in somtotaal nie naastenby genoeg energie in die vorm produseer wat Westerse en ander ekonomieë benodig nie.
Met ʼn vraag na olie wat nie deur verhoogde produksie versadig kan word nie, is die genadelose prysstyging van ru-olie op die mark dalk die eerste teken dat alles nie pluis is nie. Westerse ekonomieë sal eerstens aanpas met motors wat minder brandstof gebruik, asook ander metodes om krag te bespaar en meer effektief aan te wend. Oorskotgraan sal in biodiesel omskep word, met ʼn gepaardgaande verhoging in voedselpryse (en nood en honger in die Derde Wêreld). Meer kernkragsentrales sal gebou word en steenkool, ʼn laegraadse bron van energie wat reeds met die stoomenjin uitgefasseer is, gaan terugkom op groot skaal, met lugbesoedeling en gevaarlike myne.
Daar sal steeds ontkenning oor die langertermyngevolge van die energiekrisis wees, en omdat die gevolge van die krisis taamlik langsaam oor dekades erger sal word, sal die verband tussen ʼn olietekort en die energiekrisis nie altyd verstaan word nie.
Pogings om brandstof uit steenkool en ander bronne te vervaardig, sal algemeen aangewend word en kan in sommige gevalle verligting bring. Dit is egter duidelik dat geen produksie van olie uit steenkool of ander bronne genoeg energie kan gee om al die burgers in ʼn land soos Suid Afrika tot op dieselfde vlak as byvoorbeeld Europeërs te kan voorsien nie. Dieselfde opmerking kan oor nader energiebronne gemaak word en mens moet hier opmerk dat daar nie met ʼn kernkragsentrale geploeg kan word nie. Om te ploeg moet jy implemente en diesel gebruik, en trekkers en ander implemente is net relatief goedkoop in die olie-ekonomie. Verder is dit banaal om diesel te gebruik om gewasse te produseer waaruit biodiesel vervaardig word. As die produksie van trekkers en dies meer in ag geneem word, is dit myns insiens ʼn negatiewe spiraal met netto negatiewe energiekoste.
Die aanvanklike gevolge van die energiekrisis gaan waarskynlik nie skielik plaasvind nie, maar oor dekades (behalwe as ʼn geopolitieke krisis soos ʼn nuwe oorlog in die Midde-Ooste dit laat kristalliseer). Uiteindelik gaan die (permanente) energiekrisis oorsese lugreise duur maak en dit sal die einde van globalisering en grootskaalse migrasie beteken. Fisiese afstande wat vandag redelik goedkoop afgelê kan word, gaan weer langer (en duurder) word. Stede, en veral voorstede, wat intens afhanklik is van goedkoop brandstof vir kosvoorsiening in moderne supermarkte, gaan veral hard getref word. Plattelandse dorpe naby voedselproduserende plase gaan beter aanpas en verlore kundigheid (soos die inleg van vrugte, die maak van biltong, soutvleis en ham, die verwerking van vrugte, ensovoorts) sal weer aangeleer moet word. In die pre-industriële tydvak het mense daardie kundigheid ontwikkel en geleer nie omdat dit lekker was nie, maar omdat dit noodsaaklik was.
Intussen wissel die olieprys bokant $90 per vat, ongeveer vier maal die prys in 2000. Meningsopnames onder deskundiges toon aan dat $100 per vat meer waarskynlik is as $80 per vat in die nabye toekoms. Met ander woorde, daar is druk op die prys om te styg. Terwyl Reuters berig dat OPUL op 31 Oktober 2007 nog aangedui het dat hulle ongelukkig is met die stygende prys, en OPUL se president Mohammed bin Dhaen al-Hamli aantoon dat OPUL beplan om produksie op te stoot om tekorte op die mark te verhoed en ʼn afwaartse druk op die prys te plaas, is daar geen versekeringe dat OPUL fisies in die verhoogde vraag kan voorsien nie. Daar is vandag ʼn netto tekort van ongeveer 2,000,000 vate ru-olie per dag, en niemand beweer nou meer dat die tekort met verhoogde produksie uitgewis kan word nie. Konsensus is dat verdere afnames in produksie die tekort eerder verder in die nabye toekoms gaan verhoog.
Die spekulasie en aktiwiteite vind natuurlik plaas teen die agtergrond van onstabiliteit in die Midde-Ooste. Daar word beweer dat Iran binne 5 jaar ʼn kernwapen gaan besit en die Amerikaanse president praat onheilspellend van ʼn Derde Wêreldoorlog. Die VSA is steeds vasgeval in Irak en senior militêre figure het reeds aangedui dat die oorlog in Afghanistan ook verloor kan word. Verdere militêre onstabiliteit, soos byvoorbeeld ʼn aanval op Iran deur Israel, kan die voorsiening van olie erg ontwrig, met gevolglike stygings in die prys en ander gevolge vir die wêreldekonomie. In dié opsig het Arthur Schlesinger onlangs opgemerk dat “almal glo nou in ‘Peak Oil’”, asook dat die wêreldekonomie onvermydelik gaan afneem namate olieproduksie afneem.
Gevolge van die nuwe situasie sal oor dekades (en dalk oor korter termyne soos jare) gevoel word. Hoe vinnig dit ook al gebeur, en wat ook al die uiteindelike resultaat, maak maar jou sitplekgordel nou vas: ons is op ʼn opwindende en verskriklike reis na die toekoms op pad.
