“Hoekom ek slaap?”
Hoe verduidelik ‘n mens aan jou outistiese kind hy het nie sommer maar so staande aan die slaap geraak nie? Dat hy flou geword en omgekap het?
Ons ry huis toe na sy eerste bergfietswedsren.
Soos gebruiklik moes pa – dis ek – saam ry want verstaan is nie altyd maklik nie en ‘n mens wil nie diskwalifikasies en daardie teleurstelling hê nie. Die deelnemersmedaljes is vir hom baie werd – dit inspireer hom om iets te vermag -te presteer.
In baie opsigte is ons jongste nie tipies outisties nie. Hy is dol oor sekere mense, hy is ouervas. Hy is nou amper 17, en baie langer as sy pa en ma.
Kort voor die naweek was dit sulke tyd – sy ma se jarelange skaduwee, Snoetie, het ‘n laaste rusplek in die agterplaas gekry. Snoetie het net een mens geduld – vir vroulief. Ons ander het gereeld onder die tandjies deurgeloop.
Tog was dit ons jongste wat sedertdien kort-kort sorg dat daar blommetjies op Snoetie se laaste rusplek is. Netnou was hy weer hoog op ‘n leer om blommetjies wat in ‘n palmboom ingerank het by te kom.
Kleintyd het ons die deelnemersmedaljes ingeryg – pretrappe en pretdrawwe. Dié mannetjie het asem. Toe hy nog na die spesiale skool gegaan het, moes ek een keer per week skool toe gaan en in die oefenperiode saam met die atlete om en om die skool hardloop, sodat die mannetjie kon verstaan wat van hom verwag word.
Nie lank nie, toe kry ek ‘n medalje vir deelname aan ‘n 20 Km-wedloop, jare na ek uit landloop getree het danksy ‘n knie wat voor en na ‘n operasie nie meer wou saamwerk nie.
Die jaar daarna doen ek my eerste standaardhalfmarathon, en vroulief gelas dat dit ook die laaste is. Die knie maak óf oefen, óf deelneem moontlik. En toe was die uwe amper 50.
Hierna het die geldsakies gemaak dat Saterdagoggende deur smous op die boeremark vasgevang is. Vanjaar het die dinge so gedraai dat Saterdagoggende weer oop is, en uiteindelik het die dag aangebreek dat ons weer ‘n eerste fietsrybyeenkoms kon inwerk.
Pa is op kleinman se ou fiets waarvan die agterwiel met elke draaislag iewers haak. Kleinman het ‘n regte bergfiets gekry, opgebou uit nuwe en ou onderdele.”
“Moenie vir pa wag nie. Ry so vinnig jy kan.”
Nie lank nie, toe is daardie agterwiel wat so vassteek pap, en die trap word moeilik. Kleinman is los voor, al ry hy net in eerste rat. Om van ratte te probeer verduidelik is ‘n emosionele affêre, en eindig gewoonlik in stilstuipe.
Uiteindelik kom die uwe by die eindstreep aan, en kry ‘n deelnemersmedalje, maar daar van die bakkie af word beduie. Hoe nader “gedraf” word (die bene wou nie meer regtig nie) hoe meer kom woorde soos “flou geword” en “”kop gestamp” aangewaai.
Anderkant die bakkie lê kleinman plat op sy rug, maar by. ‘n Paar besorgde mense byderhand. Bloed is op kleinman se hande. Ek let op sy fiets se voorwiel is pap, en ek kan my indink hy het uiteindelik die idee van kompetisie gesnap, en gejaag, en met ‘n pap wiel, sy gô uitgetrap.
Boonop was hy vooraf so opgewonde, hy het baie laat gaan slaap die vorige nag, en was ook bitter vroeg op.
Terwyl hy vir pa by die bakkie gewag het, het hy flou geword en agteroor geval, die kop stukkend.
Ek “draf” om hom te gaan Coke koop, sy gunstelingdrankie. Terug by hom, is ‘n paramedikus ook by, ‘n apparaatjie aan die lang dun vingertjie.
Hy beduie hy is “fine”, hy wil huisie toe gaan. Min taal, maar dit wat hy opdoen is van ‘n mengsel bronne en baie van sy strokieshelde op TV, en dié is feitlik voor die voet Engels. Soms spreek die Engelse woorde ook makliker uit met die beperkings op klankreproduksie.
Ons pak die pad huis toe aan. En dis toe dat hy wil weet hoe dit dan is dat hy so aan die slaap kon raak. Ek probeer beduie van “lights out” en ander terme wat ek uit sy Jackie Chang-videos kan oproep, maar tuis word ma ook ingelig van die aan die slaap rakery, en toe die kopvallery.
Nie lank nie, is sy kop soos ‘n mummie toegedraai, en kleinman is nie min beïndruk nie. Nou kan almal sien hoe ‘n vreeslike ding hy oorgekom het.
Pa probeer wiel regmaak. Die ou fiets se binneband is daarmee heen. Sy nuwe ryding se voorwiel lewer vier gaatjies op, voor dit lyk of alles toegeplak is. Vanoggend, op die Sondag, is die voor- en agterwiel pap. Môre, op die vakansiedag, is dit verder regmaak.
En so, verband om die kop is kleinman die leer uit, blommetjies daar bo vir Snoetie.
En sy pa wil hom dooddruk.
