Die geel sakdoek

Image

“Gonna, hy soen die miesies!”

“‘Ek sal nooit die prentjie van die tralies en die geel sakdoek vergeet nie,’ sê Elna Boesak, ’n effense mistigheid in haar veelgefotografeerde oë. Haar gedagtes glip terug na Sondae by die Malmesbury-gevangenis – dié dag waarop haar man, Allan Boesak, vir 45 minute kon besoek ontvang …. sy onthou hoe sy vasgestel het sy sel is aan die agterkant van die tronk naby die bloekombos; hoedat sy die volgende Sondag soontoe omgeloop het en soos ’n standbeeld saam met hul jongste, die vier maande oue Andrea, en die sewejarige Sarah-Len daar gaan staan het. Aan haar man het sy gesê om na die buitenste selle te loop met die groot, geel sakdoek wat  ’n vriendin vir hom gemaak het … ‘Nou nog is is die beeld in my kop vasgebrand van die geel sakdoek wat hy elke Sondag aan die sel van ’n ander gevangene sou vasmaak waar hy staan en koffiedrink het.’”

Só begin Willemien Brümmer se artikel oor Elna Boesak, wat in vandeesmaand se laaste uitgawe van die tydskrif Insig verskyn. Elegant sit sy op die deftige bank in Lien Botha se foto’s, met ’n rooi rok, duur stewels en ’n versigtig-geoefende glimlag gerig op Pik Botha se dogter. ’n Hedendaagse weergawe van een van die dramatiese figure in die Griekse mitologie, ’n vrou wat immers veertien maande lank in swart geklee gegaan het omdat haar man in die tronk gesit het.

Van swaarkry wéét sy. Dit is dieselfde vrou wat aan die begin van haar huwelik nie deur die bruin gemeenskap aanvaar is nie. Dieselfde vrou wie se pa deur sy mede-blanke dorpsinwoners geviktimiseer is. Wie se ma haar verwerp het omdat sy met ’n bruinman getrou het. Dieselfde vrou wat op haar 1991-huweliksdag met Allan Boesak uit die kerk gestap het, deur hom gesoen is en toe ’n bergie hoor gil het: ”Maar my gonna, hy soen die miesies!“

Gelouter en ontnugter is sy ná al die nare ervarings. Maar steeds glo sy in die onskuld van haar man. Vertel sy, amper neerbuigend, hoe sy vir Nelson Mandela vergewe het, omdat hy nie destyds met Allan Boesak se hofsaak vir haar man in die bres getree het nie.

”Skuld en onskuld,” is die opskrif van Willemien Brümmer se artikel. Vir ses bladsye lank lees mens egter net oor onskuld. Skuld figureer nêrens nie. Kyk, ná afloop van die lees van hierdie artikel voel mens half spyt dat Boesak nie ’n Katoliek is nie. Want soveel onskuldige lyding moet mos beloon word, met heiligverklaring. Of ten minste saligverklaring.

Toe ek die tydskrif neersit, kon ek nie help om te wonder nie. Hoekom Afrikaanse joernaliste so eerbiedig met hulle onderwerpe omgaan. Hoekom alles in sulke politiek korrekte terme ingekleur moet word. En, bowenal, hoekom mense sulke verskriklike kort geheues het…

Allan Boesak se loopbaan is van die begin af deur kontroversie gekenmerk. Tussen 1970 en 1976 het hy aan die Kampen Teologiese Instituut in Holland studeer en sy doktersgraad in etiek behaal. Daar was later fluisteringe dat hy betrap is waar hy eksamenbedrog gepleeg het. Maar die Nederlanders wou nie die loopbaan van die belowende jong aktivis kelder nie en ’n sluier van stilte is oor die voorval getrek. Die onderwerp van sy tesis was, heel gepas, ”Die einde van onskuld.“ Ná die voltooiing van sy studies is Boesak terug na Suid-Afrika, waar hy toenemend by die versetspolitiek betrokke geraak het.

In 1985 bars ’n bom, toe besonderhede oor sy buite-egtelike verhouding met Di Scott, ’n blanke personeellid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, bekend word. Teen hierdie tyd was Boesak 38, getroud met die lankmoedige Dorothy en pa van vier. Hy was ook voorsitter van die Wêreldraad van Gereformeerde Kerke wat sowat 50 miljoen Protestante verteenwoordig het. Ten spyte van die feit dat Boesak die verhouding erken het, het hy terselfdertyd onskuldig gevoel. Die media het nie verstaan dat dit ”’n spesiale verhouding“ was nie, het hy gekla. En terstond verklaar dat die heksejag ”’n wanhopige poging van die regering (was) om my uit sirkulasie te kry.“ Dit was dieselfde regering wat hy later sou beskryf as ”die geestelike kinders van Hitler.“ Hy het as UDF-leier hom beywer vir boikotaksies teen blanke besighede en onder andere ’n biddag georganiseer om te bid dat die blanke regering uit die kussings gelig sou word. Hy het hom verder nie van geweld gedistansieer nie. ”Mens kan nie oor geweld praat as mens nie in staat is om iets daaromtrent te doen nie. In so ’n situasie word nie-geweld ’n onderdrukkende ideologie. Dit help en ondersteun die onderdrukker.“

In 1990 bedank Boesak vir ’n ruk uit die NG Kerk toe besonderhede in die pers verskyn oor sy buite-egtelike verhouding met die joernalis Elna Botha, wat op daardie stadium met televisie-aanbieder Colin Fluxman getroud was. Hy maak sy bedanking tydens ’n  emosiebelaaide erediens bekend, maar verseker sy gemeentelede dat hy ”niks onsedeliks“ gedoen het nie. Die volgende jaar tree hy en die stralende Elna in die huwelik.

Image

Spandabele Elna

In 1992 oorweeg die paartjie egter egskeiding. Elna Boesak se spandabelrige leefstyl word in hofdokumente as een van die redes vir spanning tussen die egpaar aangegee. Uiteindelik besluit Elna tog om die egskeidingsbevel terug te trek.

Nog ’n bom bars ’n paar jaar later toe Boesak aangekla word van die verduistering van meer as R1 miljoen wat deur Skandinawiese skenkers aan sy Stigting vir Vrede en Geregtigheid gegee is. Terwyl die saak ondersoek is, het die Boesaks hulle vir drie jaar in die VSA gaan vestig. In Maart 1997 keer hulle terug na Suid-Afrika en word jubelend deur ANC-leiers by die Kaapstad-lughawe ingewag. In die skare was wyle Dullah Omar, wat later na Allan Boesak se bestuur van skenkersfondse verwys het as ”struggle bookkeeping.“ In Maart 1999 word hy uiteindelik skuldig bevind op aanklagte van bedrog en diefstal van skenkersgeld en word hy tot ses jaar gevangenisstraf veroordeel. Die bedrogklagte het verband gehou met ’n bedrag van R682 621 wat deur die sanger Paul Simon geskenk is en waarvan Boesak slegs R423 000 aan die trustees van die Stigting vir Vrede en Geregtigheid verklaar het. Hy het die geld gebruik vir die deposito’s op twee huise, vir sy huweliksonthaal by Neethlingshof en om Elna se skuld af te betaal. ”Ek is absoluut onskuldig,“ verklaar Boesak egter aan die wêreld. Hy insinueer dat hy stilbly om ander ANC-lede nie by die skandaal te impliseer nie. Hy wou skynbaar nie die name bekend maak van ANC-lede wat geld van sy stigting ontvang het nie. Diep seergemaak vertel hy hoe hy die res van sy lewe sou worstel met die vraag waarom die Skandinawiese skenkers besluit het om die hofsaak teen hom aanhangig te maak. Hy vertel verder dat as hy destyds in Suid-Afrika moes bly om ’n strenger ogie oor die stigting se geldsake te hou, hy nie oorsee sou kon reis om apartheid te beveg nie.

Terwyl hy gewag het op die uitslag van sy appèlsaak, het Boesak drie maande later president Thabo Mbeki se inhuldiging in Pretoria bygewoon. In Mei 2000 word sy appèl egter geweier en moes hy tronk toe gaan. Sy tronkstraf is wel na drie jaar verminder. In November van dieselfde jaar word ’n onwettige selfoon in sy tronksel gevind. Hy ontken volstrek dat hy ooit die foon gebruik het. In Februarie die volgende jaar word egter vasgestel dat 47 oproepe van die foonnommer gemaak is, waaronder 21 na Elna Boesak. Die foon is in Oktober 2000 gesteel van ’n werknemer van Executel. Dit is onbekend hoe die foon in Boesak se hande beland het. In Mei 2001 besluit advokaat Frank Kahn om Boesak nie oor die besit en gebruik van die gewraakte selfoon te vervolg nie: ”In die lig van Boesak se ontkenning onder eed dat hy nie die selfoon gebruik het nie – ten spyte van getuienis wat op die teenoorgestelde dui – het ek besluit om nie kriminele vervolgingstappe teen hom te doen nie.“

In Mei 2001 word Boesak vrygelaat en ontvang hy ’n heldeontvangs van ANC-lede. Steeds is hy vas oortuig van sy onskuld. ”Ek kan nie verstaan hoe daardie mense wat my tronk toe gestuur het snags kan slaap nie.“

In September 2002 is die Boesaks weer in die nuus. Hierdie slag was dit hul bediende wat hulle Arbeidshof toe geneem het oor ’n bedrag van R1 300 wat die egpaar haar geskuld het. In 2005 haal hulle weer die koerante toe dit bekend word dat Allan Boesak sy invloed gebruik het om gemeenskaps-en kerkleiers te oortuig om die oprigting van ’n gholflandgoed naby George te ondersteun. Die Lagoon Bay Lifestyle Estate was ’n projek van Franklin Sonn en het verdeling in die plaaslike bruin gemeenskap veroorsaak. Volgens die lojale Elna Boesak het haar man die belange van die ”gemeenskap“ verteenwoordig en wou die egpaar nie kommenaar lewer op ”spekulasie“ nie.

Deesdae is Boesak ’n tentmaker-predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Piketberg. Hy en Elna woon in ’n gerieflike huis in Somerset-Wes, met ”’n geboksterte blonde au pair“ wat na hulle twee kinders omsien. Elna is besig met haar nagraadse studie in joernalistiek en betrokke by liefdadigheid en die KKNK-direksie.

Is die era van kontroversie verby? Net die tyd sal leer. Maar mens moet die Boesak-egpaar bewonder. Vir hulle geloof in mekaar. Vir hulle onwrikbare geloof in hul onskuld. En vir hul vermoë om steeds, ten spyte van alles wat gebeur het, hul slagoffer-en ikoonstatus te kon behou. ”’n Sprokieshuwelik,” meen ’n swymelende Elna in Insig. Inderdaad.

шланг для пескоструяДанильченко Харьков