Die stelling van Hossein Zebhi, die assistent-prokureurgeneraal laat mense nou twyfel oor die versekering wat hy verlede week gegee het dat minderjariges, onder die ouderdom van 18 jaar eerder die maksimum lewensvonnisse sal kry pleks van die doodstraf.
Zebhi het in kommentaar in die Etemad Melli koerant gesê dat Iran se prokureur generaal en hooggeregshof baas, wat alle doodsvonnisse moet goedkeur, die straf van minderjarige dwelmsmouse sal verander na lewenslange vonnisse toe. Op dié manier word ‘n teregstelling dan vermy, het hy gesê.
Minderjariges wat moorde pleeg kan steeds gehang word, afhangende van die keuse van die familie van die slagoffer.
In Iran is ‘n sisteem van Kwisas (vergelding). Dit is nie ‘n regeringstraf nie, maar ‘n privaatstelsel, waarop die familie van die slagoffer geregtig is volgens die wet en ook (Sharia), Islamitiese wette, het Zebhi gesê toe hy gevra is of moordenaars wat die misdaad gepleeg het voor hulle 18 geword het sal hang.
Volgens Iranse wette het die slagoffer se gesin die reg om die moordenaar kwytskelding te gee, deur “bloedgeld” te aanvaar en die skuldige tronkstraf te laat uitdien.
Die beleid van die regsisteem is om Kwisas-gevalle te laat lank neem sodat die slagoffers se familie tyd het om te besluit of de moordenaar moet hang of nie, het hy verder bygevoeg.
Hoewel Iran lid is van die Kinderregtekonvensie, doen hulle teregstellings van jeugmisdadigers sodra hulle 18 jaar oud word. Hierdie jaar alleen is daar reeds 6 sulke jeugmisdadigers gehang.
Zebhi het nie uitgebrei oor die lot van jeugdiges wat van ander halsmisdade in dié Islamitiese republiek aangekla word nie. Dit sluit in verkragting, gewapende roof en owerspel.
Sy kommentaar oor maksimum tronkstrawwe vir jeugdige misdadigers onder 18 is deur Amnestie Internasionaal en ander menseregtegroepe verwelkom.
Iran is deel van die Internasionale Ooreenkoms vir Burger- en Politieke regte en die Konvensie vir die regte van die kind, wie se lede almal afgespreek het om nie misdadigers wat die dade gepleeg het voor die ouderdom van 18 jaar tereg te stel nie.
Amnestie het gesê dat Iran die enigste land ter wêreld is waar ‘n jeugdige vanjaar tereggestel is.
