Die ergste humanit?re krisis ter w?reld

Image

David Coltart

Volgens David Coltart, MDC-parlementslid, is die humanitêre krisis wat Zimbabwe tans beleef, die ergste ter wêreld. Dit word egter nog in ’n groot mate deur die internasionale gemeenskap geïgnoreer. Coltart het die Verenigde Nasies (VN) daarvan beskuldig dat hulle hul plig versaak deur oor die saak te swyg. “Dit is ’n absolute katastrofe,” het Coltart aan die Reuters-nuusagentskap gesê. “Nie net sterf mense elke dag nie, maar die ineenstorting van die ekonomie is besig om die streek te destabiliseer.“

Inflasie is tans sowat 6000%, werkloosheid word op 80% gereken en prysbeheermaatreëls het meegebring dat supermarkrakke leeg is. Selfs stapelvoedsel soos brood en mieliemeel is feitlik onverkrygbaar. “Wat ons nou nodig het, is ’n enorme hulpverleningspoging. Mugabe gebruik met opset voedsel as ’n wapen,” meen Coltart. ”Die probleem is dat dinge op die oppervlak kalm lyk – dit is in die hospitale en lykshuise waar jy egter die waarheid sien.”

Volgens hom word daar wel tans vordering gemaak in die gesprekke tussen die ZANU-PF-regering en die MDC, maar lê daar nog ’n lang pad voor. Daar moet eenstemmigheid oor ’n nuwe grondwet bereik word voor die presidensiële en parlementêre verkiesings in Maart aanstaande jaar plaasvind.

Hy het voorts ’n beroep op die strydende faksies binne sy party gedoen om hulle geskille by te lê en om die verkiesing verenigd aan te pak. “As ons die verkiesing as ’n verdeelde party aanpak, sal dit ’n geskenk wees vir ZANU-PF en ’n ramp vir Zimbabwe."

Intussen het sakeleiers Maandag gewaarsku dat beplande wetgewing wat die meerderheidsaandele van buitelandse firmas binnekort in die hande van swart Zimbabwiërs sal plaas, die land se ekonomiese probleme gaan vererger.  Daar word verwag dat buitelandse beleggings met ten minste 30% sal daal en dat ’n daling in die bruto binnelandse produk ook sal plaasvind

100 play gamesАлександр Фильчаков