Hoe dit ook al sy, is daar bepaalde knelpunte wat aandag verdien. Een vraag wat beantwoord moet word is: hoekom het lande grense? Die antwoord hierop is om te sorg dat die inwoners van daardie lande binne daardie grense kan bepaal in watter koers hulle wil vaar. Grense stel ‘n volk in staat om sy eie besluite te neem, sy kennis en inligting uit te brei soos hy dink goed is, en om sy hulpbronne, sy welvaart, sy energie toe te wys aan stelsels waar dit die meeste nodig is om op die lang termyn te oorleef. Daarbenewens kan daardie land bepaal welke persone van buite af welkom is en welke persone nie.
As dit nie was vir grense nie, sou volke geen insae gehad het in hul eie besluite nie. Hulle sou geen beheer gehad het oor die kennis en inligting van hul land nie. Hulle sou geen beheer gehad het oor wie sy hulpbronne bestuur, wie sy energie verbruik en waaraan hy sy welvaart moet bestee nie. Sodra ’n volk geen beheer meer het oor sy grense nie, raak anargie, uitwissing, oorlog en derglike narighede reële moontlikhede. Vanuit hierdie standpunt is grense juis getrek om vrede te bewaar, en om te sorg dat welvaart en oorlewing op die lang termyn gewaarborg is vir ’n bepaalde volk.
Daar is ook ’n sielkundige dimensie aan grense. Persone wat baie duidelike persoonlike grense stel is oor die algemeen gelukkiger en handhaaf gesonder verhoudings. Sodra ’n mens sy persoonlike grens versaak, soos wanneer hy/sy toelaat dat ’n ander homself oormatig afdwing op hom/haar, verloor daardie persoon beheer oor sy geestelike hulpbronne. Hy kan geen eie besluite meer maak nie, kan geen eie idees en intellektuele koers kies nie, en kan sy emosionele energie nie meer na eie wil stuur nie. Onder sulke omstandighede is sielkundige toestande soos angs, depressie, haat en woede dikwels die gevolg.
Psigoterapeute leer mense dikwels dat die beste of miskien selfs die enigste geneesmiddel teen hierdie angs en depressie is om duidelikheid oor jou persoonlike grense te verkry. Om hierdie grense te trek, kos selfvertroue en af en toe moed. (In die film Saving Private Ryan het ek ’n uitstekende definisie van die term ‘moed’ gehoor, naamlik: “Courage means doing the right thing”). Sodra mense die moed gekry het om hul grense duidelik te maak en ongewenste indringers af te weer, verhoog hul gevoel van selfvertroue soos wat hulle weer beheer terugkry oor hul emosionele energie.
Interessant genoeg het ondersoeke aangetoon dat die mense wat duidelike persoonlike grense stel as charismaties en bekoorlik gesien word. Om "nee" te sê maak ’n mens dikwels aantrekliker as om "ja" te sê. Nietzsche het dit goed saamgevat toe hy geskryf het: Om almal se beste vriend te wees is om jou eie grootste vyand te wees. Sodra iemand egter sy eie beste vriend is, met ander woorde hy maak duidelik bekend wie gewens en wie ongewens is, verhoog die bewondering vir daardie persoon. Mense voel aan dat daardie persoon sag is teenoor homself, wat af en toe vereis dat hy hard moet wees teenoor ander wat misbruik van sy tyd en energie wil maak.
Met hierdie sielkundige dinamiek in gedagte kan ek net hoop dat ons linksbekeerdes ’n bietjie hieraan sal aandag gee. Mense soos Afrikaan is nie net besig om ’n totale gek van homself te maak teenoor sy eie volk nie, maar sulke kruiperigheid is beslis nie gedrag wat baie liefde en aandag sal kry van sy naaste nie. Vir diegene wat in evolusie glo, kan ons die rede vir hierdie persoonlike grense terugtrek na die oertyd, toe die alfamannetjie die een was wat die duidelikste was oor sy grense om die oorlewing van sy groep te verseker. Hy was origens ook die een wie se kans op voortplanting die beste was om sy sterker gene oor te dra aan die volgende geslag. ’n Mens wonder nogal hoe die ekstreemlinkses, die kommuniste en ateïste, diegene wat geneig is om evolusie as oorsprong aan te hang, standpunte sal afdwing op mense om hul ondergang te veroorsaak. Dit bewys in elk geval weereens dat hulle nie in gelykheid belangstel nie, maar om die baas te wees oor alles wat asemhaal in hul land. Hulle maak van hulself die alfamannetjie.
Ek dink dis tyd dat Afrikaners "harder" standpunte moet inneem teenoor die ANC se imperialisme. Meer betogings, meer ontwrigting van ANC-vergaderings, meer ongewenste standbeelde beklad en harder en duideliker standpunte inneem.
Die leier van die Nederlandse Sosialistiese Party het nou die dag gesê dat mense verkies dit om onder hul eie soort te wees, en diegene wat nie ’n land se vooruitgang bevorder nie, moet liefs buite die grens bly. Met ander woorde die tydsgees is reg. Met die nodige insette kan ons dalk Europa se simpatieë wen om te help om die ANC hok te slaan. Net soos met die Anglo-Boereoorlog, kan ons dalk weer vasteland Europa aan die Afrikaners se kant kry en die ANC en hul Ingelse skoothondjies by die BBC onthul vir wie hulle werklik is.
