Vyf politieke partye gederegistreer deur OVK

Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK
Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK

Die Onafhanklike Verkiesingskomissie het besluit om vyf politieke partye in die aanloop tot vanjaar se algemene verkiesing te deregistreer.

In ‘n verklaring het die woordvoerder van die OVK, Kate Bapela, vandag gesê: “Elke jaar moet ons seker maak dat die partye steeds bestaan en steeds aktief is.”

“Dit is ‘n administratiewe funksie wat ons vervul. Ons stuur herinnerings na die partye om uit te vind of hulle steeds aktief is. Indien hulle nie antwoord nie, word hulle gederegistreer.”

Volgens Bapela is herinnerings aan vanjaar aan vyf partye gestuur: die Justisieparty, die Real Congress, die United Democratic Civic Organisation, die Unemployed People’s Party en die Christelike Front, waarna hulle gederegistreer is.

“Ons het geen antwoord van hulle ontvang nie. Ons weet nie wat hul status is nie, dus is hulle gederegistreer.”

Kennisgewings van die deregistrasie is in verskeie dagblaaie gepubliseer.