Darfoer-onderhandelinge sukkel voort

Image

Pessimistiese Kadhafi

Onderhandelaars wat poog om ’n einde te bring aan vier jaar van geweld in die wes-Soedanese streek Darfoer, het Sondag voortgegaan met die gesprek ten spyte van Moammar Kadhafi se uitspraak dat die onderhandelinge gedoem is tot mislukking.

Die Soedanese regering het ’n wapenstilstand aangekondig toe die nuwe rondte samesprekings Saterdag begin het, maar agt rebellegroepe het besluit om die vergadering, wat deur die Afrika-unie (AU) en Verenigde Nasies (VN) geborg word, te boikot.

“Ons kan nie op hierdie stadium oor sukses of mislukking praat nie. Die belangrikste is dat die proses begin het,” het Noureddine Mezni, woordvoerder van die Afrika-unie, gesê. Daar word steeds gehoop dat die afwesige rebellegroepe oorreed kan word om wel deel te neem. Net ses kleiner rebellefaksies neem tans aan die onderhandelinge deel en selfs hulle het junior verteenwoordigers gestuur. Die ses groepe het hierdie naweek ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle ’n beroep op die bemiddelaars in die proses doen om ’n tydskedule uit te werk met betrekking tot onderhandelinge met die groepe wat tans die proses boikot. Hulle dring daarop aan dat niemand in die proses uitgelaat moet word nie en wil graag ’n herhaling verhoed van die Abuja-ooreenkoms in 2006 toe een rebellegroep ingestem het tot ’n ooreenkoms met die regering maar die ander groepe geweier het om die dokument te teken.

Kadhafi, wat die gesprek Saterdag geopen het, het gesê dat die afwesige Soedanese Bevrydingsbeweging en die Beweging vir Geregtigheid en Gelykheid van kardinale belang vir die vredesproses in Darfoer is. “Ek beskou hulle leiers soos my seuns, selfs al is hulle ongehoorsaam, maar sonder hulle kan ons nie vrede bereik nie.” Hy het voorgestel dat die beraad beëindig word en het selfs klappe uitgedeel na die AU en VN, wat volgens hom nie bevoeg is om “’n etniese konflik” te besleg nie.

Sowat 200 000 mense is die afgelope vier jaar in die konflik dood en twee miljoen is haweloos gelaat.

циклевка паркета без выноса мебелилобановский александр досье