Peter de Villiers het die verlies aan sy gunsteling binnesenter, Adrian Jacobs, probeer verlig deur die senter, Jean de Villiers, nader te hark vir Saterdag se toets teen Ierland op Croke Park.
De Villiers, Jean, het Suid-Afrika in September verlaat om vir die Ierse klubspan, Munster, te speel. De Villiers, Peter, se beleid was om nie Springbokke wat in die buiteland speel, in sy span in te sluit nie.
Die beleid het egter soos mis voor die son verdwyn toe hy die uitgeweke stut, CJ van der Linde, en toe die vaskop, BJ Botha, noodsgewys opgeroep het om die sukkelende Springbok-voorry te versterk.
Adrian Jacobs het in twee toetse op binnesenter gewys dat hy nie daarvoor gemaak is nie, en sy besering was ‘n nie-deeglik-bedekte seën vir die Springbokke.
Rugbykenners krap die kop oor hoekom die Bulle se binnesenter, Wynand Olivier, oor die hoof gesien word. Hy het oor die afgelope paar seisoene homself as ‘n sleutelspeler in die trofeeryke Bulle-span gevestig en sy vennootskap met skrumskakel Fourie du Preez en losskakel Morné Steyn is een van die hegste in wêreldrugby.
