Die doel van die veldtog is om “wanpersepsies van Britse Moslems en Islam” uit die weg te ruim en om sodoende ’n meer verdraagsame en inklusiewe samelewing te skep. In Julie vanjaar is volbladkoerantadvertensies in die vernaamste Britse koerante geplaas onder met die slagspreuk “Moslems verenig” waarin die Moslemgemeenskap duidelik hul afkeer van terreurdade uitspreek. Die huidige reklameveldtog in die moltrein, stasies en lughawens beklemtoon die diversiteit en positiewe bydrae van Britse Moslems en die integrale deel wat hulle in die alledaagse lewe in Brittanje speel.
Skeptici, veral op die internet, was egter gou om hierdie geïdealiseerde beeld van Britse Moslems te jukstaponeer met plakkate wat deur regte Britse Moslems tydens die vele anti-Westerse betogings in Brittanje gedra word waarin die ondubbelsinnige boodskap uitgedra word dat Moslems verenig is in hul haat teenoor die Weste en ’n Derde Wêreldoorlog op Europa wil afroep.



