Britse duikbote was geen opsie, hoor Wapenaankope-kommissie

modjadjiDie hoof van die vlootstelsel-afdeling by Krygkor, Rob Vermeulen het Maandag bewerings weerlê dat Suid-Afrika ‘n geleentheid om goedkoper, Brits-vervaardigde Upholder/Victoriaklas-duikbote te koop oor die hoof gesien het.

Vermeulen het voor die Wapenaankope-kommissie in Pretoria gesê dat Suid-Afrika voldoende produkte by die Duitse duikbootkonsortium gekry het, ondanks kritiek.

Vermeulen het sy getuienis gister voltooi, en sy kruisondervraging sal vandag begin. Die kommissie het bevraagteken waarom die kontrak aan die Duitse maatskappy toegeken is om die duikbote te bou terwyl daar ander bevoegde sakevennote was.

Vermeulen het verduidelik dat die duikbote voldoende is vir die werk wat hulle moet doen.

Hy sê dis jammer dat die hele projek besmet is deur die bewerings oor die aankope.

Hy het gereageer op ‘n vraag wat aan hom gestel deur Sammy Lebala SC, wat gevra het of daar enige waarheid steek in kritici se aansprake dat Krygkor die goedkoper duikbote vir ‘n duur Duitse model verruil het as gevolg van korrupsie .

Vermeulen het sy getuienis hervat na Krygkor en die departement van verdediging toegegee het aan die kommissie se eis dat hulle sensitiewe dokumente vrystel. Regter Willie Seriti het uitgestel gegee om die regering tyd te gun om al die dokumente te oorhandig.

Vermeulen het gesê onafhanklike kundiges het gehelp met die Suid-Afrikaanse vloot se stel kriteria om voornemende duikbote te evalueer. Die topprioriteit was om die vermoëns van die duikbote en die ouderdom van die tegnologie aan boord van die skip te meet.

Hy het gesê die nadeel van die Britse Upholderduikboot – wat op ‘n dieselenjin in plaas van ‘n kernreaktor staatmaak – is dat dit stokou tegnologie is wat ontwerp is in die Verenigde Koninkryk in die laat 1970’s. Dit sou moeilik gewees het om hulle te plaaslik te herstel in Simonstad.

Die vier lande op die kortlys (Duitsland, Frankryk, Italië en Swede) het egter die nuutste tegnologie gehad.

Terwyl die Britse duikbote gesien word as goedkoop, is dit reeds bekend dat hulle weens hulle tegniese probleme uiteindelik hul koste laat toeneem.

Die Britse duikbote wat aan die Kanadese vloot verkoop is en gestoor is, was volgens verskillende politieke partye in Kanada só sleg dat hulle nooit in diens was in Kanada nie en uiteindelik onnodige uitgawes was, het mnr Vermeulen gesê.

Vermeulen het ook ontken dat senior vlootpersoneel ingemeng het met die kortlys van die verkrygingsafdeling .
Intussen het Lawyers for Human Rights gister gekla dat nie genoeg inligting oor die Krygkorgetuies beskikbaar is nie.