Die daling van 45 sent per liter vir brandstof, is ‘n welkome aankondiging vir verbruikers.
Die vermindering in die kleinhandelsprys van petrol sal net voor Kersfees aan Suid-Afrikaners verligting bring, maar verbruikers se skuldlas bly ‘n probleem.
Die daling is te wyte aan laer internasionale oliepryse weens ‘n verhoogde aanbod deur OPUL-lande soos Saoedi-Arabië.
Dié lande wil Rusland dwing om toegewings te maak wat gastoevoer en dollartransaksies betref deur die Russe se energie-inkomste onder druk te plaas.
Volgens die uitvoerende hoof van Debt Rescue, Neil Roets, sal die 60 sent per liter daling in die dieselprys Suid-Afrikaanse verbruikers nog meer help, aangesien vragmotorvervoerkostes sal daal.
Die meeste verbruikersartikels word per pad vervoer en indien kleinhandelaars dié besparing aan verbuikers deurgee, kan dit tot effens laer voedselpryse lei.
Werkloosheid van bykans 25 persent bly egter hoog en die algemene ekonomiese vooruitsig lyk nie rooskleurig nie.
