Meer as ‘n 100 mense is beseer en een oorlede nadat twee treine Maandagmiddag in Boskop buite Potchefstroom in ‘n botsing betrokke was.
Die oorledene was glo swanger.
Volgens Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, is meeste van die beseerdes kleuters en tieners. ‘n Mobiele kliniek is op die toneel opgeslaan om die beseerdes te behandel.
Viwe Mlenzana, uitvoerende hoof van Shosholoza Meyl, het aan Beeld gesê een trein was van Johannesburg na Kaapstad op pad en die ander een in die teenoorgestelde rigting. Die masjinis van laasgenoemde trein het glo versuim om stil te hou by die kruising waar die ongeluk sowat 20 km buite Potchefstroom gebeur het.
Die voorval het omstreeks 14:20 plaasgevind.
Na bewering het ‘n deel van die een trein ontspoor as gevolg van die impak. Mlenzana het gesê die botsing was die oorsaak van ‘n menslike fout van die masjinis.
“Die drywer het die kruising oorgesteek sonder om magtiging te kry,” het Mlenzana gesê. Albei treine was glo veronderstel om stil te hou sodat die een die ander kon verbygaan. Die een wat van Johannesburg gekom het, het reeds stilgestaan en gewag.
Die aankomende trein van Kaapstad het teen volle vaart teen die stilstaande trein gebots.
Treine tussen Johannesburg en Kaapstad sal vir die volgende paar dae vertraag word.
