Die hof het ‘n Duitse fotograaf, wat glo verantwoordelik was vir die chaos kort voor die finale loting vir die 2010-wêreldbekertoernooi, Maandag op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Bernd Fischer (68) staar verskeie aanklagte in die gesig nadat hy Vrydag ‘n bomdreigement by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gemaak het.
Fischer het glo beweer dat hy ‘n bom in sy sak gehad het. Hy het sy sak laat val en probeer vlug maar is deur owerhede vasgekeer.
Dié voorval het plaasgevind terwyl die laaste voorbereidings vir die loting besig was om plaas te vind.
Die gebou is ontruim en plofstof-deskundiges was op die perseel. Al die ingange van die sentrum was ook afgekamp terwyl die polisie die gebou gefynkam het vir enige plofstoftoestelle.
Die landdros, Vusi Mhlanga, het gelas dat Fischer se paspoort en alle ander reisdokumente by die polisie ingehandig moet word, het Die Burger berig.
Fischer moet hom ook elke Maandag, Woensdag en Vrydag tussen 07:00 die oggend en 16:00 die middag by die Seepunt-polisie aanmeld.
Die verhoor is uitgestel tot 15 Januarie 2010 vir verdere ondersoek.
