Polisie skiet oproerige dood

Die polisie het ‘n oproermaker by Atok buite Burgersfort in Limpopo doodgeskiet en nog een gewond.

Die gewonde is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat die polisie na bewering gisteraand op oproeriges losgebrand het.

Die polisie sê hulle het uit selfverdediging opgetree nadat hulle deur ‘n oproerige skare aangeval is.

Die skietery volg te midde van voortslepende oproer deur inwoners wat eis dat hulle aangestel word deur die nabye Bokoni-platinummyn.

‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba sê die polisie monitor reeds twee dae lank die gebied wat gespanne bly. Geen formele klagte oor die onrusmakers se griewe is nog ontvang nie.

Die besige R37-roete tussen Burgersfort en Polokwane word steeds met klippe en rommel versper.

Skole en klinieke in die gebied is gesluit weens die oproer.