So koggel ʼn boodskappie vanaf ʼn Boeremagvriendin, teen die middel van Februarie, op my selfoon. “Sê liewer ons en politiek en tyd is so inmekaar verstrengel” antwoord ek sinies. Ek bedink my en vervolg dadelik met nog ʼn boodskap: “Ons gaan nog versmoor in hierdie einste (Boeremag)saak. Sommer binnekort, letterlik omkom aan ʼn suurstoftekort… nog lank voor ek of jy kans kry om oud te word. Hehehe…”
Sedert die saak op 2 Februarie hierdie jaar begin het, is dit al ʼn hele paar keer uitgestel. Meer as een keer omdat van die sleutelpersone te siek was om voort te gaan. ʼn Paar dae voor ek die sms ontvang het, het die saak een dag afgestaan omdat daar te min suurstof in die hof was. Die lugreëling werk met tussenposes glad nie – vir maande al nie. Al klink dit ook vergesog, met twintig beskuldigdes, tien advokate, ʼn regter en twee assessore, ʼn gros of meer in polisie-uniform en soms nog ʼn aanhoorder of twee in die galery kan die suurstof in selfs so groot spasie soos die hofsaal, benoud min raak.
Op daardie tydstip was die sewentigjarige Gerhardus Visagie, (Oom Vis) van Warmbad in die bank. Hy is nommer 17 van beskuldigdes in die Boeremagsaak en ook die oudste. Hy was besig om aan Regter Jordaan te verduidelik dat hulle hele beplanning daarom gegaan het dat as hier geweld sou uitbreek ons mense georganiseer moet wees om onsself te verdedig.
Verseker is ons nie tydloos nie, kyk hoe lê die oud-word oor oom Vis, het ek in die hof gesit en dink. Is die politiek tydsaam in ons, die groepie mense by die saak betrokke, ingebrand of was die politiek voor die tyd reeds deel van ons, het ek gewonder.
Ek het teruggedink aan die getuienis gedurende Oktober verlede jaar van die agt-en-sestigjarige oom Frik Boltman, beskuldigde nr. 15. Hy het vertel dat hy in ʼn huis met ʼn absolute politieke atmosfeer groot geword het. Sy pa was in 1938 verkies as LV vir De Aar, Colesberg, weer in 1943 en herkies in 1948. “U weet in ʼn stad beteken ʼn LV niks nie maar op die platteland is hy amper die koning, sou ek sê. So daar het altyd besoekers gekom en daar was maar net altyd politiek gepraat… (Oor) ons behoud as die Afrikanervolk… ons volksgeskiedenis – dit was amper soos moedersmelk ingekry : van Bloukrans, van die moord op die boere, van Moorddrif, van Potgieter wat afgeslag is. Dit was deel van my opset gewees” het hy getuig. Hoewel die Staat probeer aantoon het dat hy te klein was om dit te onthou, het hy voet by stuk gehou. “As jy nou my ouderdom is dan sal jy verstaan maar jy tel die goed op in jou lewe sonder dat iemand dit nou definitief vir jou sê.”
Na sy pa se dood in 1952, het sy ma, ʼn kleindogter van ds. Dirk Postma wat die Gereformeerde Kerk gestig het, haar as onderwyseres bekwaam. Oom Frik het hulde gebring aan haar, wat hul vyf kinders alleen groot gemaak het. Sy is nou reeds 92 jaar oud. Selfs na sy vader se dood, het sy nog in die politiek betrokke gebly. “As ʼn Nat – nie ʼn Sap nie.” Oom Boltman het getuig dat hyself by die Nasionale Party betrokke was tot in 1976.
“U edele oom Black Swart, Hans Strydom, Serfie Serfontein, PK le Roux is almal huisvriende van ons gewees. …oom Black-hulle het by ons kom kuier en ons het vir hulle gaan kuier. Ons was in die presidensie meer as een keer. Een keer het hy vir ons kom kuier, ek sal dit nooit vergeet nie, met die hele gevolg. Met sy motorfietse, sy wagte en daardie groot swart kar, ek kan nou nie onthou wat is dit nie. Ek het nou gedink wat noem ʼn mens dit maar ons was nou eintlik die “talk” van die “town” gewees na daardie situasie.”
Hoe bly dinge oor tyd nie maar net dieselfde nie? Veral as dit by familie-dinge, die kerk en politiek kom. Dit is van die gedagtes wat by my opgekom het, terwyl hy vertel het van die stryd tussen sy pa en sy oupa. Sy oupa wou nie gehad het dat sy ma van die Gereformeerde kerk, waarin sy groot geword het, na die NG Kerk, haar man se kerk, moes oorgaan nie. Na al die tyd bewaar hy nou nog die briewe wat daaroor handel. Ook het hy vertel van sy suster wat in die ANC-“struggle”, gedurende die sestiger jare gearresteer was, toe die wet op kommunisme van krag geword het.. Hy weet tot vandag tog nog nie of sy wel ʼn volwaardige ANC-lid was nie. Hy het gesê dat die mense wat vir hulle kom vertel het, dat sy een van dié was wat in Londen voor die Afrika-huis getoi-toi het, nogal gesê hulle is net bly dat sy pa dood is, en dat hy dit nie gesien het nie.
Die vertellings uit sy lewe het ʼn tydperk van sewe dekades vervleg in die politieke geskiedenis van ons volk gedek. En ʼn driekwart dekade daarvan is die Boeremag-saak reeds aan die gang. Tye verander tog – selfs gedurende dekades. Meeste van die beskuldigdes in die saak het plaasmoorde, wat hul verwag het erger sou word, en die kans dat dit na grootskaalse geweld kan oorspoel, as hul grootste motivering beskou om betrokke te raak by iets wat later as die Boeremag sou bekend staan… (Volgens Projek 2010 was daar gedurende Februarie hierdie jaar twintig plaasmoorde – die meeste nog in een maand!)
Oom Boltman het vertel van ʼn gesprek wat hy voor 2002 gehad het met Piet Pretorius, die skrywer van die boek Volksverraad: — “…hy het gepraat – ek het nie geweet hulle noem dit so nie, hy het gepraat van ‘n tweede revolusie. Ek het gedink ‘n revolusie is in verskillende fases. …nee, hy het gepraat van die tweede revolusie. Met ander woorde die eerste deel – die eerste revolusie is die oorname, die wettige oorname van die land deur die ANC of wat ook al. Maar die werklike kom wanneer die Kommuniste Party die Regering – dit is die tweede revolusie. Hy het daarvan gepraat, wat ek nou ook nie geweet het nie.”
“U edele ek was baie bekommerd oor die veiligheid van ons mense veral na aanleiding van die plaasmoorde wat die regering aanhoudend ontken dat dit ʼn politieke strekking het. Ek dink dit is polities gemotiveerd. Die feit dat dit moorddadig is. Die feit dat daar nie goed gesteel word nie. So ek het net gedink die regering het nie die mag of die wil om orde te handhaaf nie… Die Uhuru het mos afgekom in Afrika in al die lande, in elke land waar hulle onafhanklikheid gekry het, het hulle uitgemoor.”
Oom Boltman is op die 10 de Oktober 2002 gearresteer, sewe jaar voordat hy op 21 Oktober 2009 in die getuiebank kom staan het. Ek kan die nuusberig onthou die dag toe hy gearresteer is, ook die foto van hom wat laer in die Pretoria News verskyn het, … het daar werklik intussen soveel tyd verby gegaan? Tydens sy getuienis het hy ʼn paar maal genoem dat hy nie kan onthou nie. “U edele as ek vir u vertel watter verleenthede het my geheue vir my al in my lewe gekos. Ek het nou maar ʼn paar goed hier genoem. Ek vergeet .., ek vergeet u edele.”
Hy het vertel dat sy regsverteenwoordiger hom nie in die bank wou plaas nie, maar dat hy aangedring het. Want, het hy gereken as hy skuldig bevind sou word sonder dat hy in die bank was, sou hy sy prokureur kwalik geneem het. “As hy my hier sit en ek word gepand dan is dit ek. Dit is hoekom ek hier sit vandag u edele.”
Daar is baie dinge in hierdie saak gesê, die oorkonde is al lankal by vyftig duisend bladsye verby. Sommiges daarvan sal ek graag wil vergeet, maar ʼn paar dinge van oom Frik Boltman se getuienis sal ek in ʼn diep onthou wil wegbêre:
Op sy ouderdom, het ʼn mens “darem al ʼn paar jaar deur die land geloop, u weet”.
Dat hy op sy oudag nog ʼn besigheid begin het, want “… ʼn mens hou nooit op nie, het u nooit dit agtergekom nie? Dit is soos iets wat jou byt. ʼn Ou wat suksesvol is hou nie op nie hy wil net al hoe meer. Nie noodwendig dat jy geld jaag nie maar jy gaan net aan en aan en aan. Ek het dit met my kliënte gesien u edele skatryk mense maar hulle hou nie op nie. …maar ek het ʼn paar besighede in my lewe begin, met ʼn paar het ek lelik verloor maar met party het ek baie sukses behaal en as ek agterstevoor is dan is dit maar net omdat ek so is.”
Hy het “ maar tot die slotsom gekom dat mens sekere besluite in jou lewe self neem en andere word vir jou geneem…”
Op die einde van sy getuienis het hy die regter bedank: “…Ons is nou 7 jaar hierso en u het ons altyd menswaardig behandel en daarvoor wil ek graag my waardering uitspreek.”
Wat ek seker die langste sal onthou, is dat politiek oor die tyd heen, mens hegter aan ander mense kan bind as aan jou eie bloedverwante. Want, was sy redenasie, sommige mense is nie “politieke ‘animals’ nie – hulle probeer geld maak – dit is al.”
Teen die tweede week in Maart begin Johan Pretorius (beskuldigde nr. 19) net na oom Vis getuig, omdat Herman van Rooyen (nr. 18) gekies het om nie in die bank te gaan staan nie. Skielik is daar nou weer vordering in die saak. Dié aand stuur ek aan my Boeremagvriendin ʼn boodskappie: Jou wyse aanhaling oor die politiek bly by my spook… miskien sal ek en jy, op ons oudag ook kan sê dat die politiek ons nie verbygegaan of onaangeraak gelaat het nie.
media brandingtopcargo отзывы