SAUK bang hul fone word deur intelligensie afgeluister

Hannes du Buisson
Hannes du Buisson

Die SAUK se joernaliste is glo bang hul selfone word deur die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) afgeluister, het die Mail & Guardian Vrydag berig.

Die voorsitter van die Uitsaaiwese, elektroniese, media, en verwante werkersunie, Bemawu, Hannes du Buisson het aan die koerant gesê die unie het ‘n klagte ontvang dat die SAUK-raad se voorsitter Zandile Tshabala personeel gewaarsku het om versigtig te wees met hul selfoongesprekke omdat hulle gemonitor word.

“As dit waar is, is ons baie bekommerd omdat dit onwettig is om dit te doen,” het Du Buisson gesê.

Vyf redaksielede het reeds onafhanklik die besonderhede van die Januarie vergadering aan die weekblad bevestig.

“Eintlik, het sy gesê ons moet onsself aan gesag onderwerp … en dat ons die regerende party moet respekteer. Sy het gesê jou foon word afgeluister… omdat die SAUK ‘n nasionale sleutelpunt is,” het een personeellid gesê.

Die SAUK se woordvoerder Kaizer Kganyago het aan die koerant gesê Tshabalala se boodskap is verkeerd aangehaal.

“Sy het hulle net herinner dat daar lekkasies in die organisasie is en dat dit ‘n nasionale sleutelpunt is en dat mense lojaal moet wees om lekkasies te voorkom,” het Kganyago gesê.