Le Pen rig ope brief aan Franse bankgoewerneur oor goud

Die leier van Frankryk se Front Nasionaal het ‘n ope brief aan die goewerneur van die Franse Reserwebank, Banque de France gestuur waarin sy eis dat ‘n oudit gedoen word om vas te stel wat die stand van die land se goudreserwes is.

Marine Le Pen het aangedui dat die kwessie van nasionale belang is en so gou moontlik onderneem behoort te word.

Dié eis kom te midde van Amerikaanse kommer oor die uitslag van die Switserse goudreferendum wat eersdaag plaasvind om die edelmetaal aan 20% van die onderliggende waarde van die Switserse Frank te verbind.

Nederland het pas hul eie goudreserwes gerepatrieer.

Intussen het die uiters ongewilde Franse president gesê hy sal die aflewering van twee oorlogskepe aan Rusland opskort tot verdere kennisgewing.

President Francois Hollande het in sy reaksie gesê daar moet eers ‘n “politieke oplossing” vir die krisis in die Oekraïne gevind word. Die VSA probeer om die land by NAVO in te lyf nadat hulle ‘n burgeroorlog ontketen het om Rusland te destabiliseer.

Die Franse skeepsbouers het egter aangedui dat hulle sal voortgaan met die bou van die omstrede skepe ten spyte van die jongste uitlatings.

Die Vladivostok is die afgelope paar dae besig met seetoetse met ‘n Russiese bemanning wat opgelei word om die vaartuig te beheer.

Dit sou later vandeesmaand aan Rusland oorhandig word.

Daar is ook druk van Europese vassalstate onder Amerikaanse beheer, veral Pole en die Balkanlande, om nie die skepe aan Rusland te lewer nie.

Die VSA poog om dmv NAVO verder oos uit te brei en dreig kleiner en swakker state op die vasteland af om nie bande met Rusland te onderhou nie.