Laggende Bainsvlei-moordenaars skuldig bevind

Die Vrystaatse hooggeregshof het drie swart mans skuldig bevind aan moord op die bejaarde Swanepoelegpaar van die kleinhoewe Kwaggalaagte in Bainsvlei in Januarie 2015.

Regter Mojalefa Rampai het Fana Ntshedi, Motsamai Bitterbos en Jackie Louw skuldig bevind op twee aanklagte van moord, twee van ontvoering en huisbraak met die opset om te steel en roof met verswarende omstandighede.

Toon Swanepoel, 72, en sy vrou Rienie, 70, is oorval, beroof, vasgebind, gemartel en verkrag en daarna geskiet op Sondag, Januarie 11, 2015, by hul huis.

Rampai het gesê dit is duidelik dat die slagoffers uit hul huis geneem is om dood te maak, en daar was geen ander bedoeling behalwe om hulle te vermoor nie.

Die hof het bevind dat Nsthedi se getuienis in die hof vals was, en versuim het om die regter te oortuig.

Sy leuens het eintlik die Staat se saak teen hom versterk.

Rampai het bevind dat Bitterbos se getuienis “onbetroubaar en vals was en hy het hopelose antwoorde tydens kruisondervraging verskaf. Louw kon nie die oorweldigende DNA-getuienis teen hom verduidelik nie.

Rampai het gesê hy is daarvan oortuig dat die Staat die skuld van al die aangeklaagdes bo redelike twyfel vasgestel het.

Vonnisopleggingsprosedures sal na verwagting Vrydag begin.

Bainsvlei-moorde: Misdaadtoneel spreek boekdele

Twee van die drie laggende verdagtes (foto) in die moord op die Swanepoel-egpaar van Bainsvlei, Bloemfontein op 11 Januarie verlede jaar, het enige betrokkenheid by die misdade ontken, maar die misdaadtoneel spreek van die teendeel.

Die Vrystaatse hooggeregshof het Donderdag gehoor dat Fana Ntshedi se vriendin het sy skoene vir hom gebring het om aan te trek, die oomblik toe hy in hegtenis geneem is.

Die staat beweer spore van daardie skoene is op die moordtoneel gevind. Ntshedi ontken dit en sê dat hy nie die skoene ken nie.

Hy het getuig dat hy ook nie ‘n venster gebreek het op die misdaadtoneel waar sy vingerafdrukke gevind is nie.

Hy het ook nie ‘n sokkie verloor met sy DNA op die misdaadtoneel nie.

Beskuldigde nommer twee, Motsamai Bitterbos het aan die hof gesê hy het sommer toevallig bakkie die slagoffers langs die pad opgemerk om 03:00 die oggend ná die moorde.

Hy wou die voertuig na die slagoffers “terugneem” en het by hul huis “rondgeloop”. Hy sê dit is die rede waarom sy voetspore op die misdaadtoneel was.

Hy het daarna besluit om na die polisiekantoor te ry om die voorval aan te meld, maar is gestop deur ‘n vangwa op pad en in hegtenis geneem, het Bitterbos gesê.

Hy het die Swanepoels se gesteelde vuurwapen by hom gehad toe hy vasgetrek is.

Die derde beskuldigde in die saak is Jackie Louw. Sy getuienis sal vandag gehoor word.

Die bejaarde Toon en Riene Swanepoel is ure lank gemartel en Rienie is herhaaldelik verkrag voordat hulle doodgeskiet is. Die polisie het gesê die moordtoneel het soos ‘n “skietbaan” gelyk.

Hulle het Toon in die been geskiet omdat hy wou terugveg en daarna sy vrou voor hom verkrag, het die ondersoekbeampte, Kobus Coetzee gesê.