Australië en China het hul grootste handelstransaksie tot nóg toe is Dinsdag gesluit toe die wêreld se grootste genoteerde oliemaatskappye, Exxon Mobil en PetroChina, oor ’n vloeibaregastransaksie van $41 miljard ooreengekom het.
“Dit is ’n stelling oor die aard van ons twee ekonomieë en die feit dat Australië belangrik is vir China, net soos China vir Australië belangrik is,” het Martin Ferguson, Australiese minister van hulpbronne, in Beijing gesê.
Die gastransaksie tussen Exxon en PetroChina kom net weke nadat Exxon ’n transaksie van A$10 miljard met Indië se Petronet oor die Gorgon-gasvelde gesluit het. Dit is Australië se eerste transaksie oor vloeibare natuurlike gas met Indië.
Die transaksies en die byna afgehandelde gepaardgaande regulatoriese aanvaarding daarvan deur die federale regering, beteken dat die Gorgonprojekvennote die reuseprojek van vloeibare natuurlike gas in die weste van Australië teen vroeg aanstaande maand kan goedkeur.
Die jongste Gorgongasverkope sal PetroChina se totale aankope van vloeibare natuurlike gas op altesame 3,25 miljoen ton per jaar vir 20 jaar te staan bring. China sal dus die projek se grootste gaskliënt wees.
Die feit dat PetroChina nie ’n minderheidsbelang in die projek het nie, ondanks die volumes wat hy koop, dui daarop dat die langtermynvraag na vloeibare natuurlike gas steeds sterk is ten spyte van die ekonomiese afswaai.
Met ’n lys van sowat ’n dosyn voorgestelde soortgelyke gasprojekte in die Asië-Stille Oseaan-streek, is kopers ook gretig om so vinnig moontlik voorrade vas te maak vir die projekte wat die waarskynlikste ontwikkel gaan word.
Die Gorgonprojek, waarin Chevron ’n 50%-belang het en deur hulle bestuur word, is in die weste van Australië en het ’n voorgestelde jaarlikse uitset van 15 miljoen ton.
Exxon en Royal Dutch Shell besit elk 25% van die projek.
Chevron en sy vennote sal na verwagting vroeg aanstaande maand finale beleggersgoedkeuring vir die uitgestelde Gorgonprojek gee.
Die totale verwagte koste van die projek is A$50 miljard, volgens Colin Barnett, premier van Wes-Australië.
