Andrew Marr, die BBC se politieke swaargewig het die Britse premier, Gordon Brown, geskok met ‘n vraag of hy afhanklik is van pille “om hom aan die gang te hou”, tydens ‘n lewendige televisieuitsending met hom by die Arbeidersparty se konferensie in Brighton.
Brown se raadgewers was ewe geskok en sê hulle het nie gedink die BBC sal die gerug van die internet af wat hulle reeds ontken het, ernstig opneem nie.
Lord Mandelson het “ekstreemregse” figure met politieke doelwitte verantwoordelik gehou vir die beweringe oor Brown se gesondheid.
“Ons sien daarbuite op die internet, die blogosfeer, al hierdie ekstreemregse mense wat hierdie smeerveldtogte en gerugte probeer versprei, almal absoluut sonder gronde,” het hy gesê.
Brown sukkel met sy oë agv ‘n rugbybesering, maar Mandelson het ontken dat hy afhanklik is van medikasie.
Mandelson het bygevoeg dat hy uiters verbaas is dat die BBC sulke stories stukrag gee.
Hy het ook gesê dat die premier se ooglopende moegheid hom beter laat vertoon as die “springerige” David Cameron, leier van die Konserwatiewe Party.
Marr het aan Brown gesê dat hy hom wil vra “oor iets waaroor almal in Westminster praat… Baie mense [in Brittanje] gebruik voorskrif pynmedikasie en pille om hulle aan die gang te hou”.
Daarna het hy Brown direk gevra: “Is u een van hulle?”
‘n Geskokte Brown het geantwoord dat die vraag nie in die leksikon van Britse politiek hoort nie.
Marr het weer probeer, maar die premier, duidelik geïrriteerd, het die vraag ignoreer.
Die verslaggewer het sy vraag verdedig en gesê baie mense in Westminster praat daaroor en daarom was dit geldig.
