ANC hunker na sosialisme

Die diskoers oor sosialisme in Suid-Afrika is nie onverwags nie, ook nie dat die denke sterk kommunisties-gerig is nie.

Saam met oehoeroe het die sg Afrika-sosialisme gekom, met oud-pres. Julius Nyerere van Tanzanië waarskynlik die bekendste eksponent. Die ujamaa wat sterk met dié Afrika-sosialisme geassosieer is, was eintlik net die landboubeleid, en is van die begrip, gesinsverband, afgelei.

Die harde werklikheid was dat Tanzanië ‘n eenparty sosialistiese staat geword het en uiters krities teenoor kapitalisme was, wat die “mens vreet mens-stelsel” genoem is.

Nyerere was egter maar een van ‘n lang lys Afrikaleiers wat dié variasie van sosialisme op die proef gestel het. terwyl die eksponente van gewone Marxisme, soos Augustino Neto later gekom het. Hoe goed of sleg enige van dié stelsels sou kon werk is ‘n akademiese oefening, omdat korrupsie kort voor lank so goed in die omgewing van ingekorte vryhede gedy het dat die state se bodems uitgeruk is.

Suid-Afrika se weg na sosialistiese praatjies, hetsy afkomstig van Julius Malema of vanuit die SAKP, loop effens anders. Talle bekende ANC-leiers soos Nelson Mandela en Thabo Mbeki was in stadiums kommuniste, en vandag nog het die SAKP ‘n stewige posisie binne die ANC. Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, is ‘n kommunis, en so ook dr. Blade Nzimande en die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson.

Voor 1994 het die ANC ook baie militêre steun vanuit die kommunistiese blok gekry, iets wat skynbaar meer gewig tel as die ekonomiese en diplomatieke hulp wat vanuit die Weste ontvang is. Hoewel min van hierdie lande, soos Rusland en Oos-Duitsland, vandag nog kommunisties is, boesem die term “kommunisme” by baie nie dieselfde weersin in as by die meeste westerse lande nie.

Terwyl Malema die voorprater vir die nasionalisering van myne, en nou ook banke is, trap die SAKP water hieroor. Opportunisme hang sterk in die lug. Verskeie van die swart bemagtigde myne is erg in die sop, en om dit te nasionaliseer, bied ‘n grasievolle uitkoms. Nzimande, wat bevestig die SAKP staan nasionalisering voor, wys juis daarop dat die nasionalisering van myne dikwels op die nasionalisering van skuld sal neerkom.

Te veel nasionalisering verklein natuurlik ook die poel waarheen kaders vir swart ekonomiese bemagtiging ontplooi kan word. In ekonomiese terme word die staat nie om dowe neute as die onproduktiewe sektor beskryf nie, en so lank sekere sektore in privaat besit is, is daar hier en daar ruim om te skep en kaders te verryk.

Boonop het die laaste Suid-Afrikaanse party wat amptelik sosiaal-demokraties was, die Onafhanklike Demokrate, in die liberaal-demokratiese DA opgegaan, en is daar nie nou in Suid-Afrika ‘n politieke heenkome vir hierdie meer Westerse variasie van sosialisme nie.

Terwyl die werklikheid van die wêreldekonomie een ding aandui, is daar nog ‘n diepgewortelde idealisme vaardig, en word gereeld gehunker na die voorbeelde wat Kuba, en deesdae Venezuela stel. Beide dié lande spartel baie na aan die onderpunt van die internasionale persvryheidsindeks, ‘n duidelike aanduiding van die vryheidsprys wat dié lande se inwoners vir hul sogenaamde sosialistiese paradys moet betaal. Venezuela se relatiewe ekonomiese sukses is grootliks aan sy fabelagtige olierykdomme te wyte as enige sweempie van sosialistiese sukses. Die ekonomiese inploffing van kommunistiese lande soos die voormalige Oos-Duitsland en ander lande agter die ystergordyn, behoort waarskuwingsligte te laat flits.

наборы для творчества для детейФильчаков прокурор харьков