Vlugte vertraag weens kabeldiefstal

ortambo2Talle vlugte is Sondag op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg vertraag weens kabeldiefstal.

“Ons het nie ‘n tekort aan brandstof nie,” het Unathi Batyashe-Fillis, woordvoerder vir Airports Company SA (Acsa), gesê. “Ons het drie kragkabels wat erg beskadig is wat ons verhoed het om brandstof in te gooi in vliegtuie by die lughawe.”

Volgens Batyashe-Fillis is die kragtoevoer onderbreek toe die kragkabels beskadig is in ‘n roofpoging. 

Die polisie ondersoek die saak en tegnici van die lughawe werk reeds sedert Sondagoggend 11:00 om krag na die kabels te herstel. “Sodra dit afgehandel is kan ons weer so gou as moontlik met bedrywighede voortgaan.”

“Alle bedrywighede het egter nie tot ‘n stilstand gekom nie. Vlugte vertrek steeds, maar talle is steeds op die grond en word vertraag. Van die vliegtuie kan brandstof kry, maar dit neem baie lank,” het Batyashe-Fillis bygevoeg.

Sodra die kabels vervang is en die kragtoevoer weer aangeskakel is, kan die vlugte voortgaan. “Vlugte wat voor in die ry staan sal eerste opstyg, soos die Lugverkeer en Navigasiedienste (ATNS) bepaal.” – Sapa