Die Vryheidsfront Plus se Federale Dagbestuur het verlede week Vrydag formeel besluit om ‘n anti-Malema veldtog in die belang van alle Suid-Afrikaners in die algemeen en Afrikaners en minderhede in die besonder, te loods.
“Die veldtog skop hierdie week af onder die tema ‘Vervolg Malema’. Dit spruit voort uit die strafregtelike klagte wat die party se leier, dr. Pieter Mulder, verlede week teen Malema gelê het na aanleiding van sy haatspraak teen boere.
Dit is van kardinale belang vir ons toekomstige veiligheid en ekonomiese integriteit om die Malema-trein te stuit. Plaasmoorde moet stop en voedselsekuriteit moet verseker word,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder vir Ekonomie gesê.
Die veldtog bestaan uit die werf van handtekeninge per e-pos asook by wyse van ‘n nuwe aktivisme-webwerf waar ‘n protesbrief, gerig aan president Zuma, onderteken kan word. Hierdie briewe sal aan Zuma voorgelê word om die publiek se misnoeë oor Malema te kenne te gee en druk op die ANC te plaas om dissiplinêre stappe teen hom te neem.
Dis ook belangrik dat die ANC duidelik moet kan sien dat die publiek se geduld op is met roekelose leiers soos Malema. Die ANC verstaan net een taal en dit is ferm demonstrasie. Daarom is hierdie aksie van kardinale belang en ondersteunend tot die verskeie klagtes wat alreeds teen die ANC-jeugleier gelê is.
Die VF Plus vra daarom dat die publiek ons sal ondersteun deur die volgende webwerf te besoek: www.vervolgmalema.co.za.
Die naasbestaandes en vriende van vermoordes, Steve Hofmeyr, Sean Else, lede van die publiek en ander bekende kunstenaars soos Gerrie Pretorius, Sunette Bridges en ʼn lid van die groep Klopjag, gaan Vrydag, 19 Maart 2010 saam met AfriForum Jeug ’n memorandum en ’n lys van 1600 slagoffers van plaasaanvalle aan die ANC Jeugliga oorhandig uit protes teen Julius Malema se “Skiet die Boer”-uitsprake.
Die oorhandiging vorm deel van AfriForum Jeug se “Stop Malema”-veldtog. Die veldtog behels onder meer:
· ‘n saak teen Malema wat reeds deur AfriForum Jeug by die Gelykheidshof in Johannesburg aanhangig gemaak is,
· ‘n petisieveldtog,
· ‘n www.stopmalema.co.za webwerf, en
· ‘n Stop Malema-Facebookgroep. Die Facebookgroep het vanoggend om 11:00 reeds 9300 lede gehad.
Die besonderhede van die memorandum oorhandiging is:
Datum: 19 Maart 2010.
Tyd: 10:00.
Plek: Vergader by Mary Fitzgerald Square (hoek van Bree- en Henry Nxumalostraat), Johannesburg.
