‘n Joodse advokaat, Paul Shapiro, het vroeër vandeesmaand in die Gautengse Hooggeregshof, Pretoria, geargumenteer dat swartes nie swaar gestraf moet word as hulle Afrikaners of blankes doodmaak nie, aangesien hulle “gely het onder apartheid”.
Shapiro het opgetree vir twee swart moordenaars, Lawyer Marabe Talane, 39, and Rodney Katang Masemola, 35, wat mnr. Dawie Maree, ‘n 27-jarige sakeman van Murrayfield, voor sy vrou Elana en twee jong kinders doodgeskiet het.

Die twee beskuldigdes het in Mei 2008 by die Maree-gesin se huis in Meyerspark ingebreek. Maree is in die rug geskiet, asook ‘n medepligtige van die beskuldigdes, Seporo Martin Tshebesebe, wat insgelyks gesterf het. Regter Tshifiwa Maumela het vroeër bevind dat dit nie duidelik was wie vir wie geskiet het nie, maar dat die skietery deur die inbraak en onregmatige betreding van die bende op die Marees se eiendom veroorsaak is.
Shapiro het volgens berigte “hartstogtelik” gepleit dat die regter in ag moet neem dat die twee moordenaars “tydens apartheid” grootgeword het en daarom minder lewensgeleenthede gehad het en ‘n ligte straf behoort te ontvang.
Hy het insgelyks aangevoer dat sy kliënte onskuldig is en deur “rassistiese polisie” bedrieg is. Volgens Shapiro se weergawe van die gebeure het mev. Maree haar eie man doodgeskiet en dit “agterna laat lyk asof die beskuldigdes die moord gepleeg het”. Dit sou egter beteken het dat mev. Elana Maree twee lyke van buite die huis tot in die slaapkamer moes gesleep het. Sy is egter tengerig gebou en nie sterk genoeg om so iets te kon doen nie; boonop was daar geen bloed of sleepmerke op die toneel om Shapiro se verhaal te staaf nie.
Shapiro het egter volgehou dat die twee moordenaars op die “medelye” van die hof geregtig is omdat hulle tydens apartheid deur Afrikaners “geviktimiseer” is. Volgens hom moet daar ‘n samelewing geskep word waarin daar “respek vir almal is”, ook vir mense wat slegte goed gedoen het, soos die twee moordenaars.
Die regter het egter getwyfel of dit die regte boodskap sou uitstuur indien mense wat tydens apartheid grootgeword het dit as versagtende omstandigheid kan aanvoer, ook gesien in die lig dat dit reeds 20 jaar gelede is.
Regter Maumela was bekommerd dat die boodskap oorgedra sou word dat blankes in die land ekstra veiligheidsmaatreëls sou moes neem omdat swartes lig daarvan sou afkom indien hulle blankes sou aanval.
Dit sou ook ‘n klimaat skep waarin geen blanke meer in die land veilig sou voel nie, het hy gesê.
Die staatsaanklaer, Theo Moetaesi, het beklemtoon dat Maree aan 100 mense werk verskaf het en dat hulle en hul afhanklikes nou insgelyks van ‘n inkomste ontneem is.
Die saak is tot 24 November vir vonnisoplegging uitgestel.
