’n Woordvoerder van Marie Stopes, wat wettige aborsies uitvoer, meen dat hierdie soort kruiemedisyne veral in Kwazulu-Natal en in die Oos-Kaap geadverteer en verkoop word. Volgens Rachel Jewkes, ’n woordvoerder verbonde aan die Mediese Navorsingsraad, is dit skokkend dat vroue tot R400,00 vir sulke moetie betaal. “Dit kom basies op onwettige geldverdienste neer, want jy kan in Suid-Afrika jou swangerskap gratis laat beëindig.” Jewkes meen dat dit onwettig en gevaarlik is om kruie te gebruik om ’n aborsie mee uit te voer. “Dit werk soms, maar aborsies wat deur kruie meegebring is, kan baie gevaarlik wees, veral as dit in ’n gevorderde stadium van swangerskap uitgevoer word. Dit kan skeuring van die baarmoeder en selfs die dood veroorsaak.
Jewkes het verder gesê dat ongeskikte hospitaalpersoneel, wat pasiënte as moordenaars bestempel, een van die redes is hoekom vroue dikwels onwettige aborsies bo dié in hospitale verkies. Soms is hulle swangerskap al te ver gevorder om nog vir wettige aborsies te kwalifiseer en ander kere is vroue bloot nie bewus van al die opsies nie.
Sedert 1997, toe aborsie in Suid-Afrika gewettig is, het die dood van vroue tydens aborsies van ongeveer 425 per jaar tot 40 gedaal. Persone wat onwettige aborsies uitvoer, kan tot tien jaar gevangenisstraf ontvang.
