Duisende betogers het Saterdag na die kongresgebou in Washington gemarsjeer om te betoog teen die VSA se aanlynspioenasie. Die omvang daarvan is onlangs deur Edward Snowden onthul.
‘n Boodskap van Snowden is voorgelees by die geleentheid.
Mense het slagspreuke vertoon soos “Stop Mass Spying”, “Thank you, Edward Snowden” en “Unplug Big Brother”.
Die betoging is gereël deur ’n koalisie bekend as Stop Watching Us, wat ’n beroep op die kongres doen om die wette wat die NSA ( National Security Agency) toelaat om elektroniese data in te samel, te verander.
Die regering van pres. Barack Obama het gesê die NSA-programme is “uiters belangrik” vir die beskerming van die land se nasionale veiligheid teen “terroriste”.
Snowden het onthul dat die Amerikaners owerhede inwoners se internetbedrywighede en foonoproepe op groot skaal monitor.
Saterdag was ook die 12de herdenking van die Patriot Act, wat kort ná die 9/11-terreuraanvalle aanvaar is en wat die staat omvattende magte gee.
Snowden, ’n voormalige NSA-kontrakteur, het asiel in Rusland ontvang.
Hy het pas onthul dat die VSA 35 wêreldleiers afluister, waaronder ook die foon van Angela Merkel, kanselier van Duitsland. – Reuters
