Egiptiese owerhede het Dondrdag ‘n senior Hamas beampte wat $9 miljoen en 2 miljoen euro gedra het verhoed om in Gasa deur die Rafah-kruising in te gaan, het ‘n sekuriteitsbeampte aan AFP gesê.
Grensbeamptes het ‘n groep van 6 mense wat onderweg terug was van vredesamesprekinge in Kaïro voorgekeer en aangedring om hulle bagasie te deursoek.
Die amptenare het 5 lede laat deurgaan, maar ‘n Gasa-gestasioneerde Hamaswoordvoerder, Ayman Taha, wat die geld gedra het, is verhoed om die grens oor te steek.
“Daar is kontakte in die ministerie van finansies wat moet besluit of die geld deurgelaat moet word of nie,” het die amptenaar gesê.
Hamasamptenare het verskeie kere in Gasa ingegaan met groot hoeveelhede geld ná hulle die parlementêre verkiesing in 2006 gewen het, maar dit is die eerste keer sedert Hamas die mag oorgeneem het van sy Fatah-teenstaanders in Junie 2007, het die amptenaar gesê.
In Desember 2006 is Hamas se eerste minister Ismail Haniya gedwing om $35 miljoen by die Egiptiese kant van Rafah te laat. Die geld is toe na ‘n rekening van die Palestynse owerheid oorgedra.
Egipte het Donderdag die Rafah-grenspos gesluit vir alle deurgang, behalwe uitsonderlike gevalle nadat dit vir hulp en gewonde Palestyne gedurende Israel se oorlog teen Hamas oopgemaak is.
“Geen humanitêre, media of mediese afvaardigings sal toegelaat word om deur te gaan nie en geen mediese voorraad sal deurgevat word nie,” het ‘n grensbeampte aan AFP gesê. “Buitelandse afvaardigings” wat vanuit Egipte na Gasa beweeg, sal wel toegelaat word om terug te keer.
Egipte het hulpvoorraad, mediese voorraad en dokters asook joernaliste in die Gasastrook laat ingaan gedurende Israel se 22-dae-offensief teen die gebied wat met eensydige skietstilstande op 18 Januarie geëindig het.
Egipte het geweier om die grenspos permanent oop te maak in die afwesigheid van EU-monitors en verteenwoordigers van die Palestynse president Mahmud Abbas, nadat Hamas sy magte uit die gebied verdryf het toe hulle die Gasastrook oorgeneem het.
