Nuwe eiland gevorm na aardbewing in Pakistan

pakistan_quake_islandDie dodetal ná ‘n kragtige aardbewing in Pakistan, het Woensdag tot 327 gestyg nadat honderde modderhuise in die slag gebly het. 

Die weermag het talle soldate per helikopter na die yl bevolkte Awaran in Baluchistan geneem. Dit is die ergste aardbewing sedert 2005 toe sowat 75 000 mense in die noorde van die land omgekom het. Maandag se aardbewing het 7,7 op die Richterskaal geregistreer. 

Die aardbewing was so sterk dat ‘n klein eiland aan die Pakistanse kuslyn in die Arabiese See gevorm het. Die aardbewing volg dae nadat 80 Christene verlede naweek in die stad van Pesjawar dood is na ‘n selfmoordbomaanval.

Kundiges meen die eiland  se leeftyd sal van korte duur wees. Die eiland is  21 meter hoog, 100 meter breed en 40 meter lank. Dit het  200 meter van die kus uit die see gerys ná die aardbewing.  Seismoloë verwag dat dit binne ‘n paar maande weer deur die see ingesluk sal word. – AFP